

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 February 2010
Die lugmagsersant van LMB Makhado wat daarvan beskuldig word dat hy sy 10-jarige stiefdogtertjie seksueel misbruik het, het Dinsdag vlugtig in die streekhof op Louis Trichardt verskyn.
Dit volg na die man se vorige verskyning in Desember verlede jaar, waartydens sy borgaansoek deur die Staat teengestaan is.
Die 34-jarige man is in November verlede jaar in hegtenis geneem en het verskyn op een klag van verkragting, een klag van seksuele aanranding, een klag van die vervaardiging van kinderpornografie, een klag van die vertoon van kinderpornografie aan ‘n kind, en een klag van die seksuele vorming (grooming) van ‘n kind.
Sy inhegtenisname het gevolg nadat sy vrou en ma van die dogtertjie op pornografiese beeldmateriaal van hom en die dogtertjie op die gesin se rekenaar afgekom het.
Tydens die man se vorige hofverskyning het dit aan die lig gekom dat daar dalk meer klagte van verkragting teen die man geformuleer kan word. Daar sal egter eers sekerheid hieroor verkry kan word met die man se volgende hofverskyning.
Tans wag die hof nog steeds op die uitslag van ‘n ondersoek om te bepaal of die foto’s wat van die dogtertjie geneem is, tydens een geleentheid of by meer as een geleentheid geneem is, aangesien dit sal bepaal hoeveel klagte van verkragting teen die man geformuleer moet word.
Daar is verwag dat die man tydens sy hofverskyning hierdie week sou pleit, maar sy saak is uitgestel tot 26 en 27 April vir verhoor.

ADVERTISEMENT:
