ADVERTISEMENT:

 

Bejaarde boer op Alldays wreed vermoor

 

News  Date: 19 March 2004

 

ALLDAYS – Drie vermeende moordenaars van 'n bejaarde boer is hier deur lede van die landbougemeenskap aangekeer, tydens 'n intensiewe, georganiseerde soektog onder leiding van die Transvaalse Landbou-unie. Padblokkades en soekpatrollies is deur die boere onderneem en die verdagtes is na hulle inhegtenisname aan die polisie oorhandig.

Die LUR vir Veiligheid en Sekuriteit, Me. Dikeledi Magadzi, het in 'n dringende mediaverklaring die moord beskryf as "barbaarse gedrag wat deur almal veroordeel behoort te word." Sy het gesê die bekwame wyse en spoed waarmee die verdagtes aangekeer is, moet dien as waarskuwing aan alle kriminele wat enige misdaad beplan, dat hulle beslis gevang en deur die howe gevonnis sal word.

Die Landbou-unie se steungroepstelsel is geaktiveer, nadat die jongste noodlottige plaasaanval in die omgewing van Alldays aangemeld is. Die 81-jarige mnr. Marthinus Steyn, van die plaas Derby, is Dinsdagoggend in die kraal op sy plaas vermoor.

Sy eggenote, die 78-jarige mevrou Annetjie Steyn, moes kaalvoet drie kilometer na die naaste buurplaas aflê om hulp te ontbied, nadat alle telefoondrade geknip is en sy vir vier ure in 'n kas in die huis toegesluit is deur die boosdoeners. Terwyl sy toegesluit was, moes sy hoor hoe hulle beplan om die huis na hul strooptog aan die brand te steek. 'n Erg-geskokte mev. Steyn word deur haar familielede in die omgewing versorg.

Die vermeende booswigte is aangekeer binne etlike ure nadat die Landbou-unie se veiligheidsnet geaktiveer is. Die verdagtes, wat in besit was van mnr. Steyn se voertuig, ammunisie en persoonlike dokumente, is Dinsdagmiddag deur steungroeplede by Blouberg aangekeer en aan die polisie op Alldays oorhandig. Twee minderjarige kinders was agterop die voertuig toe die verdagte volwassenes aangekeer is. Een van die verdagtes is uitgeken as 'n voormalige plaaswerker in die omgewing, wat voorheen verbind is met die diefstal van 'n voertuig en 'n vuurwapen.

In die aanval Dinsdagoggend het die aanvallers mnr. Steyn by die melkkraal aangeval, hom vermoedelik met die spantou verwurg en sy liggaam onder takke in die kraal versteek. Hulle is met die melkkanne na die plaasopstal. By die plaaswoning het hulle mev. Steyn hardhandig aan die keel gegryp en in 'n kas toegesluit. Dit was omstreeks 09:00. Sy het omstreeks 12:30 uit die kas ontsnap, nadat sy die aanvallers hoor wegry het. Sy was onder die indruk dat haar man in sy bakkie ontvoer is.

Die hele huis was geplunder en paraffien is oor al die meubels en regdeur die huis uitgegiet. Talle meelsakke vol gestroopte besittings is op die plaas agtergelaat.

'n Beskrywing van mnr. Steyn se bakkie is na die veiligheidsmagte versprei. 'n Woordvoerder van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, mnr. Gideon Meiring, sê die landbou-unie is eers omstreeks 15:00 van die voorval in kennis gestel. Die egpaar was nie lede van die unie nie.

Onmiddellik nadat die steungroepnetwerk van die landbou-unie geaktiveer is, is die hele area afgesper met bemande padblokkades. Die hele gemeenskap het aktief aan die soektog na die vermiste voertuig en die bejaarde mnr. Steyn deelgeneem. Die voertuig met die drie verdagtes is omstreeks 17:00 aangekeer en aan die polisie oorhandig, nadat mnr. Steyn se versteekte liggaam reeds op die plaas ontdek is.

Mnr. Meiring sê die doeltreffendheid van die steungroepstelsel word bepaal deur die deelname van alle lede van die landbougemeenskap. Die jongste optrede toon dat dit bykans onmoontlik is vir oortreders om uit die veiligheidsnet te ontsnap.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines