

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 February 2010
Die sluise van die hemel het verlede week behoorlik oopgemaak en heerlike, deurdringende reën het boere se harte verbly.
By die plaas van mnr. Dries Joubert in Levubu is 160mm tussen 18 en 20 Februarie gemeet en meer as 200mm vir die hele Februarie.
“Dit is ‘n besondere tyd waarin ons goeie reën gehad het. Die swaar neerslae was goed vir die aanvulling van die ondergrondse water. Die bome is in ‘n goeie toestand. Ons het vandag begin om avokado’s te oes en dit lyk baie goed. Ons weet nie of die mark ook so gaan lyk nie, maar die produk is baie goed,” het Joubert Maandag gesê.
Joubert meen ook dat met die korter dae en laer temperature, die groeitempo van die plante asook die waterverbruik afneem.
“Saam met die ondergrond wat diep nat is, kan dit ‘n lang positiewe effek toon. As die grondvog goed is, verwag ons ‘n matige, sagte winter. Wanneer ons goeie reën laat in die seisoen kry, kan ons ook dikwels uitsien na ‘n vroeë lente,” het Joubert gesê.
Op ander plekke in Levubu is tussen 80mm en 135mm tussen Woensdag en Saterdag verlede week gerapporteer.
“Ek het verlede week op die kop 100mm gemeet,” het mnr. Willie Agenbacht van Malvastraat in Louis Trichardt gemeet. Ander inwoners in Louis Trichardt rapporteer tussen 90mm en 135mm.
Agter die berg lyk die weiding mooi.
“Die weiding is pragtig hier. Dit is ‘n mooi jaar vir ons. Ons het nie loopwater nie, maar die riviere het water. Ons reëntyd is eintlik Februarie en Maart, dus verwag ons dat daar nog reën voorlê,” sê mnr. Boet le Roux wat tussen Waterpoort en Alldays boer. Le Roux sê dat daar party kolle 33mmm gereën het en ander plekke 15mm of 9mm.
“Ons gaan die winter met ‘n goeie hart tegemoet,” sê Le Roux.
Boere van Alldays rapporteer tussen en 20mm en 35mm. By Tshipise het daar tussen 30mm en 60mm geval. In Musina is daar 60mm gerapporteer en buite Musina sowat 20mm.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
