

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 March 2010
Mediaberigte wat daarop sinspeel dat die dorp Louis Trichardt se tweede naamsverandering reeds aan die minister aanbeveel is, is onwaar en die naamsraad moet nog vergader om die aanbeveling te bespreek.
‘n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Geografiese Naamsraad (SAGNR), mnr. Mandla Mathebula, het verlede week bevestig dat hulle nog geen aanbeveling aan Kuns en Kultuur Minister Lulu Xingwana gemaak het nie.
“Die Raad sal die saak een of ander tyd in Maart bespreek,” het Mathebula aan die Zoutpansberger gesê.
Die mediaberigte het gevolg na aanleiding van ‘n “feitesending” vergadering wat gereël is tussen die SAGNR, die Makhado Munisipaliteit en die Voorsittersvereniging (VV) op 4 Februarie by die LaNdou Gastehuis buite Louis Trichardt. Die VV het egter vooraf skriftelik aangedui dat hulle die ontvangs van die nodige dokumentasie, notules en besluite van die SAGNR, die spesifieke dokumente wat bespreek gaan word, asook die name en hoedanigheid van die naamsraadlede, as ‘n voorwaarde vir bywoning van die vergadering beskou. Die dokumente is nie ontvang nie en die VV het derhalwe die vergadering nie bygewoon nie.
Mathebula het die Voorsittersvereniging (VV) se optrede as “belaglik” bestempel.
“Die Voorsittersvereniging is belaglik om ons CV’s te vra. Ons verstaan nie waarom hulle dit benodig nie,” het Mathebula gesê. Televisie- en radio beriggewing van 20 en 22 Februarie het genoem dat die VV rassisties is en dink dat hulle meer intelligent of intellektueel is en daarom die raadslede se CV’s aanvra.
Mnr. André Naudé, voorsitter van die VV, het egter in antwoord hierop gesê dat hulle nooit vir die CV’s van die raadslede gevra het nie.
“Ons het gevra vir die name van die raadslede, in watter hoedanigheid die raadslede dien en in watter kapasiteit hulle al op vorige naamsrade of -komitees gedien het,” het Naudé gesê
Mathebula het die VV se afwesigheid by die vergadering geïnterpreteer as tevredenheid met die dokumentasie wat hulle reeds ingedien het.
“Hulle wou klaarblyklik niks kom byvoeg nie,” het Mathebula gesê.
Die VV het ook voor die vergadering versoek dat adv. Tommy Ntsewa moet bedank as voorsitter en lid van die naamsraad weens sy bevooroordeelde uitsprake wat op hofrekord is. Mathebula het gesê dat hulle die VV geakkommodeer het deur adv. Ntsewa nie na die vergadering by LaNdou te laat kom nie.
“Adv. Ntsewa is steeds die voorsitter van die nasionale naamsraad. Hy het net afgestap vir daardie vergadering. Ons het gevoel om alles in ons vermoë te doen om die VV te akkommodeer,” het Mathebula gesê.
Tydens ‘n televisie-onderhoud op 20 Februarie is aan me. Inga Gilfillan, sekretaresse van die VV, gevra wat sy wil hê dat die nuwe naamsraad of komitee vir hulle moet doen. Gilfillan het gesê dat dit impliseer dat die provinsiale naamskomitee of die naamsraad in die pad gesteek is. Haar antwoord het aangedui dat ‘n belangrike besluit soos ‘n dorp se naam nie deur ‘n komitee of raad geneem kan word wat op integriteitlose wyse saamgestel is nie. Prosesse moet spreek van integriteit en moet volgens die voorskrifte van die wet geskied.
Intussen het Mathebula gesê dat hy verneem het dat mnr. Mavhungu Musitha, voorsitter van die Limpopo pleknamekomitee, vervang is deur ‘n ander persoon.
Gilfillan het hierop gesê dat so ‘n afdanking ‘n bewys is van die mosie van wantroue wat die minister in die proses stel. Sy sê ook dat sy nie kan verstaan hoe daar so gou nuwe lede aangestel kan word tensy behoorlike prosesse weereens nie gevolg is nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
