

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 March 2010
‘n Voormalige inwoner van die dorp, Willem Botha (39), is verlede Woensdag in die Streekhof op Louis Trichardt gevangenisstraf van agt jaar opgelê, nadat hy skuldig bevind is op ‘n klag van onsedelike aanranding.
Die klag teen hom spruit uit ‘n voorval toe hy sy eie dogter, nou 19-jaar oud, oor ‘n tydperk van twee jaar onsedelik aangerand het.
Botha is in Julie 2007 in hegtenis geneem, nadat sy dogter na vore gekom het en erken het dat hy haar vir ongeveer twee jaar onsedelik betas het. Tydens haar kruisondervraging het dit aan die lig gekom dat Botha haar privaatdele betas het.
Botha, wat ten tye van die voorval nog met sy dogter se ma getroud was en met nog ‘n vrou ‘n verhouding gehad het, het ook probeer om sy dogter te verkrag.
Die dogter het getuig dat sy hom altyd weggestamp het. Sy was tussen die ouderdom van 14 en 16 jaar oud ten tye van die voorvalle.
Nadat ‘n verslag rakende die impak van die gebeure op die dogter wat voor die hof gelê is, het Landdros Viljoen gesê dat Botha se dade die hof met afsku vervul.
Viljoen het genoem dat Botha, as ‘n vaderfiguur, die morele plig gehad het om sy dogter te beskerm, maar dat hy geen berou getoon het tydens die gesin se berading nie en ‘n “arrogante houding” geopenbaar het. Sy het ook verder te kenne gegee dat die hof van mening is dat geen geld genoeg sal wees vir die emosionele pyn wat die dogter moes deurmaak nie. Viljoen het voor vonnisoplegging gesê dat gemeenskapsbelang die voorste sitplek inneem ten opsigte van die vonnis.
“Wat gaan ons as volk doen om ons kinders te beskerm? Die hof het ‘n verpligting om die gemeenskap te beskerm,” het Viljoen gesê. Sy het daarna vir Botha tot agt jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Botha is verlof tot appel teen sy vonnis geweier.
Botha se dogter, wat met vonnisoplegging in die hof was, het vandeesweek aangedui dat sy besig is om die stukke van haar lewe op te tel en weer bymekaar te sit, sodat sy die gebeure agter haar kan plaas.

ADVERTISEMENT:
