

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 March 2010
“Dis baie harde werk, maar die verlange is erger as die werk,” sê Jan van Graan oor sy jongste ysige dienstyd in Antarktika. Hy was nou al twee keer daar.
Jan, ‘n opgeleide lugversorgingstegnikus, was verlede week weer tuis op Louis Trichardt, nadat hy vir 72 dae weg was as lid van ‘n Suid-Afrikaanse span wat opruimings- en konstruksiewerk in Antarktika gaan doen het. Die span het op 9 Desember op die SA Agulhas vanuit Kaapstad op die 2 751 seemyl reis na Antarktika vertrek, maar het eers twee dae na Kersfees daar aangeland ná hulle vir bykans vyf dae in die ys vasgesit het.
Die 18-man span moes die ou Duitse Neumeister basis, wat 15 meter onder die ys was, afbreek en opruim en terselfdertyd daar naby ‘n noodbasis oprig vir internasionale gebruik.
“Aanvanklik moes ons in die ou basis sommer so op die vloer slaap, maar soos ons gevorder het met die bouery, kon ons darem die beddens in die nuwe basis benut. As span het ons besonder goed saamgewerk en die werk sonder haakplekke afgehandel,” sê Jan.
Die Suid-Afrikaanse span het inderdaad so flink gevorder dat hul taak binne rekord tyd afgehandel is en daar na hulle verwys is as die “miracle workers.” Hulle moes in dié tyd 58 staal skeepshouers hanteer en die nodige staalraamwerk bou, waarop die nuwe basis veilig bokant die ys ingerig is.
Dit was harde werk (in ‘n daaglikse skof van 07:00 tot 22:00) om die staalhouers van die ou basis onder die ys uit te haal. Bouwerk aan die staalkonstruksie op die ys in temperature ver benede vriespunt was ewe veeleisend.
“Langtermyn gevangenes wat in Siberië klippe kap, het nie so hard gewerk nie,” skerts Jan.
Die ergste van die buitengewone ondervinding, in die veeleisende geïsoleerde omstandighede, was egter nie die werk nie. Dit is die verlang, sê Jan. Die verlange loop ver verby die uitgestrekte wit yslandskap, oor meer as 4 000km see en nog ‘n duisend of wat kilometers deur lug en oor land tot by die gesin in die lowergroen Soutpansberg - Carin en die kinders, Nicolene (8) en Dewald (6) op Louis Trichardt.
“Miskien is dit juis die verlang wat ‘n mens so hard laat werk,” merk hy filosofies op. In ‘n week kon elkeen net 20 minute beltyd benut met die satellietfoon, wat ook maar ‘n frustrerende kommunikasie-oefening kan wees. Die tydsverskil van 2 ure was ‘n verdere komplikasie wat gesprekvoering bemoeilik.
In 1995/96 was Jan deel van die span wat Suid-Afrika se nuwe SANAE-basis in Antarktika help oprig het. Weens die goeie vordering met die jongste projek, kon die span ‘n besoek gaan aflê by die voltooide SANAE basis, wat sowat 300km vanaf hul werkplek was.
Oor die daaglikse roetine en etes daar in Antarktika, is hy heel positief.
“Ons is besonder goed versorg met ‘n voltydse sjef wat net die beste voorgesit het. Fillet steaks en chips met groente,” glimlag hy.
Met die alledaagse vriesprobleme moes die manne ‘n paar vindingryke oplossings bedink, veral toe hulle op Nuwejaarsdag ‘n eg Suid-Afrikaanse vleisbraaiery daar op die ys van Antarktika gehou het. Om ‘n blikkie koeldrank drinkbaar te kry, moes die blikkie eers ‘n tydjie op die braairooster staan om te ontvries. As jy deur die dag gereeld drinkwater wil hê, vul jy ‘n houer met kookwater, dan sal jy tydens die vinnige afkoel proses ‘n paar teue kan vat voordat dit yswater en eindelik soliede ys word.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
