ADVERTISEMENT:

 

Die skokkende gesig waarop George Steyn saam met vriende en familie afgekom het in die nuwe deel van die munisipale begraafplaas. In die foto kan ‘n deel van die kis gesien word wat onder die grond uitsteek. Nádat die begrafnisondernemer verskeie oproepe na die munisipaliteit gemaak het, is die graf vroeg Maandagoggend toegestoot. Foto verskaf

Oop graf laat vrae oor begraafplaas

 

News  Date: 05 March 2010

 

Inwoners van Louis Trichardt het op ‘n skokkende gesig afgekom in die munisipale begraafplaas toe hulle besoek afgelê het by geliefdes se grafte die afgelope Sondag.

George Steyn van Louis Trichardt het saam met vriende en familie twee grafte besoek in die nuwe deel van die begraafplaas, toe hulle opmerk dat daar ‘n oop graf is. Wat hulle egter na hulle kameras laat gryp het, was toe hulle ontdek het daar steek ‘n kis onder die lagie grond uit.

Volgens George was daar dié Vrydag ‘n begrafnis gewees.

Nog ‘n inwoner, eerwaarde Tony Solms van die Metodiste Kerk in Louis Trichardt, het vandeesweek sy afgryse omtrent die hele aangeleentheid uitgespreek.

Hy het verlede Vrydag, 26 Februarie ‘n begrafnisseremonie gelei, wat hy beskryf het as ‘n totale nagmerrie “weens swak dienslewering van die munisipaliteit.”

Volgens hom het die munisipale trugrawer eers sy opwagting gemaak, nádat al die familie en vriende van die oorledene rondom die toe graf bymekaargekom het.

“Die familie moes die emosionele trauma deurgaan en toekyk hoe hulle geliefde vader en oupa se graf oopgegrawe word, voordat hulle moeder en ouma begrawe kon word,” het eerwaarde Tony vertel.

Nadat die begrafnisondernemer genader is vir kommentaar, het dit aan die lig gekom dat daar twee ander grafte was wat oor die naweek oop gelê het.

Mnr. Jan Brink van Avbob het die week vertel dat dit nie die eerste keer is wat ‘n begrafnis se reëlings deurmekaar loop as gevolg van die munisipaliteit se trugrawer en kontrakteurs wat slap lê nie. Avbob het nie die betrokke begrafnisdienste behartig nie.

“Ons het al by ‘n begrafnis gekom waar die trugrawer gebreek het en ons saam met die familie moes spartel om die graf toe te gooi.”

Hy het verduidelik dat Avbob, as ‘n voorkomende maatreël, altyd ‘n werker by die graf agter los om seker te maak dat die graf wel toe gegooi word. “Ons sal nooit ‘n graf oop los nie,” het hy gesê.

Die begrafnisondernemer wat verantwoordelik was vir die ander twee grafte het by navraag gesê dat hulle eers Sondag uitgevind het van die grafte wat nog oop gelê het.

Die munisipaliteit is onmiddellik in kennis gestel en die grafte is vroeg Maandagoggend uiteindelik toegestoot.

Die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, het by navraag gesê dat alle media navrae eers later hierdie week beantwoord sal word.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines