ADVERTISEMENT:

 

Die foto toon duidelik hoe die grensdraad aan beide die Suid-Afrikaanse en Zimbabwiese kant oopgeknip is. By tientalle punte soos hierdie op die land se noordgrens kom mense ongehinderd onwettig Suid-Afrika binne, te midde van 24-uur polisiepatrollering. Foto verskaf.

Onbewaakte grens aan noorde rede vir kommer

 

News  Date: 12 March 2010

 

Wes van die Beitbrug-grenspos bied die eens effektiewe elektriese Kaftan-heining deesdae weinig weerstand teen die invloei van onwettige immigrante, ten spyte van polisiepatrolering.

Op tientalle plekke is die heining aan beide die Suid-Afrikaanse en Zimbabwiese kant oopgeknip, wat verbode immigrante vrye deurgang gee tot Suid-Afrika. Plek-plek is die lemmetjiesdraad tussen die twee grensdrade permanent met stokke opgelig, sodat mense onderdeur kan kruip. Op die oosgrens (oos van die Sandrivier) meen baie die grens bestaan op plekke nie meer nie.

Noord van die Soutpansberg is veral die boerdery-gemeenskap onrustig oor die veiligheidsgevaar wat hierdie nou-gebrekkige grens en toestroming van ongedokumenteerde immigrante vir hulle inhou. Dit maak ook die deur wyd oop vir vrye dwelmhandel na Suid-Afrika, asook moontlike mensehandel.

“As jy honger is en jy het nie geld nie, dan gaan jy steel,” het ‘n inwoner van Musina onlangs in ‘n televisie-onderhoud gesê rondom die veiligeidsaspek op die noordgrens.

Veiligheid is nie die enigste bekommernis wat betref die vrye beweging van mense oor die grens nie. Daar is ook vrese dat onvoldoende grensbe­heer ‘n gesondheids­gevaar vir mens en dier inhou. ‘n Uitbraak van bek-en-klouseer op die land se noordgrens kan die Suid-Afrikaanse vleisbedryf op sy knieë dwing, veral wat uitvoere betref. Die mees onlangse voorkoms van bek-en-klouseer in die noorde van Limpopo was in Julie 2006, maar gelukkig kon die uitbraak vinnig onder beheer gebring word.

Ondoeltreffende grensbeheer stel ook die land se burgers bloot aan potensieel-noodlottige oordraagbare siektes. Die cholera-uitbraak in Suid-Afrika aan die begin verlede jaar, met Zimbabwe as oorsprong, is ‘n duidelike bewys van hoe vinnig ‘n siekte epidemiese afmetings kan aanneem indien die beweging van mense nie doeltreffend gereguleer kan word nie.

Wat die toestroming van onwettige immigrante oor die noordgrens betref, meen baie dat die Departement van Binnelandse Sake se besluit in Mei verlede jaar om Zimbabwiërs sonder visums vir 90 dae in die land toe te laat om te werk, nou bydra tot die probleem. Die argument word gevoer dat hierdie besluit van die grens ‘n “oop grens” gemaak het, sonder dat mense wat die land onwettig binnekom vervolg of gedeporteer word.

Nasionale woord­voerder van die Depar­tement Binnelandse Sake me. Siobhan McCarthy sê egter dit is eenvoudig nie waar nie. Die departement se besluit het gekom te midde van ‘n ernstige ekonomiese- en politieke krisis in die buurland.

McCarthy het by navraag aan die Zoutpansberger gesê dat die departement bloot besluit het om Zimbabwe van visum-vereistes, soos baie ander Afrikalande, vry te stel.

“In daardie stadium kon hulle [Zimbabwiërs] werk op ‘n besoekerspermit. Hulle kan egter nie meer op daardie permit werk nie,” het McCarthy gesê en verduidelik dat die 90-dae werkpermit ‘n tydelik reëling was. Sy het gesê dat Zimbabwiërs nou weer amptelik moet aansoek doen vir ‘n werkpermit indien hulle in Suid-Afrika wil kom werk.

Wat betref die persepsie dat Zimbabwiërs wat die grens onwettig oorsteek nie meer vervolg of gedeporteer word nie, het McCarthy gesê dat mense wat die land onwettig binnekom, dit wil sê sonder of met vervalste paspoorte, steeds gedeporteer sal word wanneer hulle gevang word. So het die departement gedurende ‘n operasie by die Beitbrug-grenspos einde verlede jaar in die omgewing van 3 000 vervalste RSA- en Zimbabwe-paspoorte gekonfiskeer.

Maar ongeag die feit dat onwettige immigrante steeds vasgetrek word, los dit nie die probleem op wat die swak toestand van die grensheining betref nie.

Met grensbeheer wat oorgeneem is deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens, het die Zoutpansberger by hul deur gaan aanklop vir ‘n moontlike antwoord oor wie verantwoordelik is vir die instandhouding van die grens. Dit volg nadat McCarthy gesê het dat dit nie hul departement se verantwoordelikheid is nie.

In antwoord het nasionale polisie­woordvoerder Senior Superintendent Vishnu Naidoo gesê dat instandhouding ook nie die polisie se verantwoordelikheid is nie, maar verduidelik dat die grens onder beheer van die BCOCC (Border Control Operational Co-ordinating Committee) is. Dié komitee is saamgestel uit verteenwoordigers van die SAPD, SARS en Binnelandse Sake.

Oor ‘n periode van meer is ‘n maand is verskeie pogings aangewend om iemand van die BCOCC, via Binnelandse Sake, die SAPD en SARS, te kry om kommentaar te lewer oor die kwessie van instandhouding. Alle navrae het egter onbeantwoord gebly. Met niemand wat skynbaar verantwoordelikheid wil aanvaar vir die instandhouding van die grens nie, blyk dit letterlik ‘n geval te wees van ‘tussen die hand en die mond val die pap op die grond’. Derhalwe is dit nie vreemd dat die grens in so ‘n gehawende toestand is nie.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines