

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 March 2010
Na ‘n marathon vergadering tussen al die direkteure van die Makhado Munisipaliteit en die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV), voel bestuurslede van die belastingbetalers baie positief.
Tydens die vergadering op 4 Maart, wat meer as vyf ure geduur het, is sowat 26 hoof knelpunte aangeraak.
“Ons het stapsgewys deur elke punt gegaan en ons het ‘n opbouende vergadering gehad, seker nog die beste in die geskiedenis,” het mnr. Frans Prinsloo, voorsitter van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging, gesê.
Die Makhado Munisipaliteit het by monde van die Direkteur Tegniese Dienste, mnr. Thivho Ralulimi, op 9 Maart gesê dat die vergadering in ‘n baie goeie gees plaasgevind het.
“Ons het ‘n werksverhouding gevestig en het daarin geslaag om 95% van die sake op te los en ‘n aksieplan daar te stel.” Ralulimi het gesê dat een van die sake, die waardasierol, reeds uit hulle hande is en op provinsiale vlak dien.
Prinsloo het aan die Zoutpansberger gesê dat daar egter nog geen sprake van die ophef van die dispuut met die munisipaliteit is nie.
“Die druk is besig om te werk, al werk dit stadig,” het Prinsloo gesê.
Wat die negatiewe ouditeur-generaalsverslag oor die munisipale finansies betref, is daar gerapporteer dat die finansiële afdeling nou oor meer personeel beskik, waar hulle voorheen nie funksioneel was nie.
Ongeveer 35 van die talle vakante poste in die Makhado Munisipaliteit is ondertussen gevul.
“Mnr. Ralulimi het gesê dat die tegniese afdeling ‘n personeeltekort het en dat hulle adverteer vir meer energieke mense,” het Prinsloo gesê.
Daar is baie gesels oor die kwaliteit van die drinkwater. Die munisipaliteit het gesê dat ‘n maatskappy die dorp se drinkwater op ‘n weeklikse basis monitor en dat daar ook by die reservoirs gechlorineer word. Die SBBV het gewaarsku dat te veel chloor kanker kan veroorsaak.
“Wat die begroting betref, het ons vir die munisipaliteit gesê dat dit nie nou sal help om te kerm oor die ongeveer R42 miljoen begrotingstekort van verlede jaar nie, maar dat ons hierdie jaar op hoogte gehou wil word. Daar is aan ons gesê dat ons inligting vinnig sal ontvang wanneer ons dit benodig,” het Prinsloo gesê.
Die SBBV het ‘n aantal sake uitgelig, asook die antwoorde wat munisipaliteit aan hulle gegee het.
* Die herstel, onderhoud en uitbreiding van die rioolwerke sal met MIG befondsing gedoen word.
* Die munisipaliteit is ten volle bewus daarvan dat die gooi van gruis in slaggate nie ‘n werkbare opsie is nie, maar dat dit gedoen word om die bande van die motors te spaar. ‘n Nuwe maatskappy word aangestel om slaggate reg te maak.
* Die nuwe munisipale stortingsterrein (asgate) behoort teen Oktober vanjaar operasioneel te wees.
* Inwoners is genooi om te rapporteer as hulle iets sien wat verkeerd is met die hantering van die dorp se brandkrane.
* Daar is sowat 1 000 gebreekte watermeters in die dorp en die munisipaliteit is besig om dit te herstel.
* Waterlekke kan aan 015 516 2993/4/5 gerapporteer word.
* Die munisipaliteit het gevra of die publiek nie ‘n Neem-’n- parkie- aan projek wil loods nie.
* Lang toue is ‘n probleem en die lisensie-afdeling sal na die toetsgronde geskuif word en meer funksies sal by Waterval en Dzanani aangebied word. Lisensies kan ook by die poskantoor betaal word.
* Klagtes oor die baie oortydwerkers wat op Sondae waargeneem word, is aangehoor. Die oortydaansoeke sal deur die direkteur persoonlik goedgekeur word.
* ‘n Maatskappy is aangestel om vas te stel wat die minimum dienste is waaraan voldoen moet word, sodat die omliggende R293 dorpe hulle munisipale dienste sal betaal.
* Ongerymdhede insake tenders sal ondersoek word.
* Uitbreiding 13 se erwe sal nie verkoop voor daar nie dienste gelewer kan word nie.

ADVERTISEMENT:
