

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 March 2010
‘n Man wat homself voorgedoen het as ‘n polisieman is swaar beboet, nadat hy in die landdroshof op Louis Trichardt verskyn het op 22 Februarie op een klag van die nabootsing van ‘n polisiebeampte en een klag vir die besit van gesteelde goedere.
Die klagte teen die 24-jarige Mokibelo Brian Motsoko spruit uit ‘n voorval in Januarie vanjaar toe hy op Vivo in hegtenis geneem is, nadat hy hom as ‘n polisieman voorgedoen het. Motsoko is aangekeer toe hy ‘n polisie-ordeteken aan lede by ‘n polisiepadblokade getoon het.
In sy verweer het Motsoko beweer dat hy die ordeteken van supt. William Mvabelo gekry het, toe dié R20 by hom geleen het. Hy het gesê hy het die ordeteken gebruik, nadat hy die polisiepadblokkade gewaar het en gevrees het dat hy ‘n boete gaan kry.
Die hof het hom tydens vonnisoplegging skuldig bevind op die klag van nabootsing van ‘n polisiebeampte en hom beboet met R3 000 of vyf maande gevangenisstraf.
Die ander klag, vir die besit van gesteelde goedere, is teruggetrek.
Kort hierna is ‘n man van die Levubu omgewing, wat ‘n polisie-inspekteur beledig en gedreig het, ook ‘n swaar boete opgelê.
Die 35-jarige Solly Baloyi het op 16 Februarie in die plaaslike landdroshof verskyn op een klag van crimen injuria, waarop hy onskuldig gepleit het.
Die klag teen hom spruit uit ‘n voorval vroeër vanjaar in Januarie, toe hy ‘n ene Insp. Nemathithi as dom uitgeskel en gedreig het om hom dood te maak.
Baloyi se saak is uitgestel tot 23 Februarie vir vonnisoplegging, waartydens die hof hom skuldig bevind het en beboet het met R2 000 of gevangenisstraf van vier maande.

ADVERTISEMENT:
