ADVERTISEMENT:

 

Oom Hansie Uys van Louis Trichardt en sy vrou Corrie vertoon die oorspronklike lokomotief nommerplaat, wat vandeesmaand weer buitengewone herinneringe wakker maak.

Loko-nommerplaat maak ou herinneringe wakker

 

News  Date: 12 March 2010

 

Met die viering van sy 81ste verjaarsdag vandeesmaand, het Louis Trichardt se kleurvolle stoomgeesdriftige, Oom Hansie Uys, ‘n interessante herinnering aan ‘n merkwaardige sameloop van Maart-gebeure.

“Omdat ek alles oor stoom en stoomlokomotiewe versamel, gee ‘n oud-melkboer van ons distrik, wyle Hannes van Wyk, jare gelede vir my ‘n foto van ‘n stoomlokomotief wat hy geneem het toe dit in Maart 1929 vanaf ‘n skip uit Engeland op die Durbanse hawe ontskeep word. Die loko, bekend as die Garrat GL met nommer 2351, was een van twee en die sterkste lokomotief wat ooit op die Suid-Afrikaanse spoorweë gebruik is,” vertel Oom Hansie.

In 1931 kom nog vyf sulke lokos die land binne. Hulle was eintlik ‘n besending van ses, maar een het tydens die vaart los gekom en in die Atlantiese Oseaan geval.

“Gedurende Maart/April 1931 is lokomotief nr. 2351 vir ‘n baie spesiale taak ingespan. Hy moes die trein trek waarmee die koninklike egpaar die Graaf van Athlone en Prinses Alice gereis het. Die Goewerneur-generaal en sy geselskap was veral geïnteresseerd in die lokomotief – soveel so dat die koninklike egpaar ‘n gedeelte van die reis vanaf Cato Ridge tot Umlaas op die voetplaat deurgebring het,” sê Oom Hansie.

As gevolg hiervan is toestemming toe verkry dat die loko na Prinses Alice vernoem word. Die nuwe nommerplaat met die naam van Prinses Alice daarop is toe aangebring.

“Die SAS kon my nie inlig waar die ou plaat was nie en op my navrae skenk hulle toe nommerplaat 2371 aan my. Eendag, in 1980, kom ons by vriende in Pretoria en my vrou Corrie merk toe daar hang ‘n nommerplaat 2351 in oom Mias van Zyl se kantoor. Dit was die einste plaat waarna ek al jare lank gesoek het.”

Dit blyk toe dat die spoorweë met sy aftrede die nommerplaat aan Oom Mias geskenk het as ‘n blyk van waardering vir sy jarelange deeglike werk as afdelingskontroleur in die destydse Noord-Transvaal.

“Oom Mias sê toe ek kan die plaat na sy afsterwe kry. Hy is toe in 2003 oorlede en sy vrou sê toe ek moet die nommerplaat kom haal.”

Plaat nommer 2351, oorspronklike nommerplaat van die Prinses Alice-loko, is nou deel van Oom Hansie se indrukwekkende versameling.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines