

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 March 2010
‘n Nuwe euwel het sy kop uitgesteek by die munisipale behuising vir senior burgers in Louis Trichardt. Of dan meer in die kol, hy het sy hand uitgesteek en vullissakke oopgeskeur.
Dit is nou aap-se-kind. Die vullissakke wat bo-op ysterstanders gehou word, is toe buite die bereik van honde, maar nie van die ape nie.
Me. Hilda van Aarde van Laat Lente het Maandag geskakel en vertel van die probleem met die ape wat nou saam met die honde vullis rondstrooi.
Die eintlike probleem is dat die vullis nie op Dinsdag, 2 Maart, óf die voorafgaande Dinsdag deur die Makhado Munisipaliteit verwyder is nie. Vir die afgelope twee weke kon aap en hond dus na hartelus baljaar en baie moeite vir inwoners veroorsaak, wat mekaar bystaan om weer die gemors in die sakke op die standers te kry.
Maandagoggend was twee senior dames ook by die ingang te sien waar hulle die gemors skoonmaak wat honde met die sakke op die grond veroorsaak het. Verder was daar ‘n werker wat aan die straatkant van die hek met die lang gras besig was. Hy word deur inwoners gehuur om netjies te maak. Laat Lente en Herfsakker se inwoners sit dus glad nie stil nie en bring hul kant.
“Maar dis darem ook nie reg nie, want ons betaal vir dienste en waarom moet die oumense sukkel?” sê ‘n groepie inwoners.
“Ons kry ook nie meer swartsakke nie,” sê me. Elsie le Grange. Me. Joey Bester sê dat sy al die afgelope ses maande haar eie swartsakke koop. Sy het ook voorheen die tuinvullisarea naby haar huis netjies gehou, maar sy gaan eersdaags verhuis. Me. Lettie Visser onthou nog die dae toe die munisipaliteit gereeld met ‘n trekker en sleepwa en ‘n bakkie gekom het om hulle vullis te verwyder.
“Hulle moet een stuur om die vullissakke binne die terrein by die huise te kom haal,” sê me. Hilda van Aarde.
By navraag het die munisipaliteit se direkteur van Tegniese Dienste, mnr. Thivho Ralulimi, gesê dat hy sal vasstel waarom die vullis nie die afgelope twee weke verwyder is nie en dat hy ‘n persoon sal uitstuur.
Dinsdag het Tegniese Dienste gerapporteer dat hulle kort geraak het aan swart sakke en dat inwoners nie al die vullis in swart sakke gehad het nie, wat ‘n slordige voorkoms veroorsaak het. Daar is aan mnr. Ralulimi gerapporteer dat die vullis verwyder is.
Inwoners het egter aan Zoutpansberger gesê dat die vullissakke by hulle huise nog steeds daar is. Ralulimi het gesê dat hy die reëlings ten opsigte van die haal van sakke by die huise binne die terrein sal nagaan.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
