ADVERTISEMENT:

 

Rampartytjie eindig in hofsaak

 

News  Date: 19 March 2010

 

Twee jong eksotiese dansers van Polokwane is in die moeilikheid nadat die rampartytjie van ‘n boer in die Waterpoort-omgewing ietwat skeefgeloop het.

Tiana van Wyk (19) en Karina Viljoen (27) het albei verlede Vrydag in die landdroshof op Louis Trichardt verskyn op een klag van die gebruik van ‘n motorvoertuig sonder toestemming en een klag van die bestuur van ‘n voertuig sonder ‘n lisensie. ‘n Getroude boer, mnr. Pieter Pretorius, is die klaer.

Die klagte teen die twee hou verband met ‘n voorval in Augustus verlede jaar, toe die twee vroue vir ‘n naweek op die plaas van Pretorius gekuier het, tydens Pretorius se broer, Martin, se rampartytjie.

Dinge het egter suur begin raak toe die twee meisies Pretorius se bakkie gerol het in ‘n beweerde poging om van die plaas af weg te vlug, nadat hulle kwansuis aangerand is en vir hulle lewens gevrees het.

Luidens Van Wyk se polisieverklaring was hulle alleen saam met Martin in sy chalet. Martin sou volgens Van Wyk vir Viljoen gesê het om die ligte af te skakel. Toe Viljoen nie gehoor gee aan sy versoek nie, het hy ‘n glas uit haar hand gestamp, haar teen die vloer neergegooi en haar gevloek.

Van Wyk het Martin na bewering gesmeek om hulle terug te vat na hulle chalet. Hy het volgens die vrouens geweier en die bakkie se sleutels in Van Wyk se gesig gegooi en gesê dat as sy dan wil ry, kan sy ry.

Volgens Van Wyk het hulle besluit om eerder pad te gee en by die polisie te gaan hulp soek.

Onderweg na die polisiestasie op Waterpoort het hulle beheer oor die bakkie verloor, waarna dit gerol het.

Pretorius se getuienis in die hof verlede Vrydag het egter ‘n heel ander prentjie geskilder aangaande dié betrokke naweek se gebeure.

Volgens sy getuienis het Van Wyk en Viljoen vyf kostuums vir die naweek saamgebring, waarmee hulle Martin, ‘n oujongkêrel wat op trou gestaan het, en nog ander gaste moes vermaak.

Alhoewel die meisies ‘n slaapplek toegewys is, het hulle daarop aangedring om saam met Martin na sy chalet te gaan om nog verder te “kuier.”

Volgens Martin wou hy egter dadelik gaan slaap en het hy die meisies gevra om die ligte af te skakel en rustig te raak.

Die meisies het hulle blykbaar nie aan hom gesteur nie en verder gekuier, waarna hy hulle by die kamerdeur uitgestoot het. Martin beweer een van hulle het hom toe met ‘n drankbottel gegooi. Hy beweer dat hy hom hierna nie verder aan hulle gesteur het nie en hulle net aangesê het om die glasstukke te gaan weggooi, voordat hy terug is na sy kamer.

Die meisies het toe, volgens die getuienis, die bakkie sonder enigiemand se toestemming gevat en daarmee weggery.

Nadat die meisies nie weer na hulle chalet teruggekeer het nie, het die mans besluit om na hulle te gaan soek.

Hulle is sowat 3km van die polisiestasie gekry, waar hulle langs die bakkie gesit het, pas nadat dit gerol het.

Die twee meisies is voorlopig op die toneel van die ongeluk gelos, terwyl die boere teruggegaan het om ‘n ander voertuig te gaan haal om die bakkie se vrag oor te laai en die meisies dan daarmee saam terug te neem huis toe.

Met die mans se terugkoms by die toneel, het die meisies reeds padgegee en die kort afstand na die polisiestasie gestap om ‘n klag van aanranding teen Martin te lê.

Dié saak van aanranding is egter tydelik teruggetrek, maar sal heel moontlik weer op die rol geplaas word vir verdere vervolging van die aangeklaagdes. Indien dit die geval is, sal die beskuldigdes, ironies genoeg, dan die rol inneem van aanklaers.

Die meisies se saak is uitgestel tot en met 29 en 30 April vir verdere verhoor.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines