ADVERTISEMENT:

 

Malema sing "skiet die boere" en toe sterg nog twee

 

News  Date: 19 March 2010

 

Skaars ‘n week nadat ANC-jeugligaleier Julius Malema studente van die Universiteit van Johannesburg aangehits het om saam met hom ‘n ANC-bevrydingslied met die lirieke “skiet die boere, hulle is verkragters” te sing, is nog twee boere van die Limpopo Provinsie koelbloedig vermoor.

Vrydagoggend, 12 Maart, is die 65-jarige mnr. Jan Wheeler op ‘n plaas sowat 10km buite Marble Hall doodgeskiet. Die daaropvolgende dag is die 64-jarige mnr. Frik van Deventer van die plaas Langlaagte naby Dorset in die Vaalwaterg-omgewing deur aanvallers doodgeskiet. Dit het die dodetal in plaasaanvalle in die provinsie sedert die begin van die jaar op agt te staan gebring. Dit is ‘n merkbare styging in die getal plaasmoorde, veral gesien in die lig dat daar in die voorafgaande twee jaar (November 2007 tot Desember 2009) nege plaasmoorde in die provinsie was. Dit is buiten die 25 gedoku­menteerde plaasaanvalle in die ooreenstemmende tydperk.

Georganiseerde land­bou het met skok en woede reageer op die naweek se twee moorde.

Mnr. Doors le Roux, voorsitter van die TLU SA se provinsiale veiligheidskomitee, het gesê dit is nou duidelik dat die SAPD hoege­naamd nie by magte is om enigsins misdaad­intelligensie in te span om misdaadvoorkoming toe te pas nie.

“Daar blyk ook geen vermoë te wees om mense op die platteland te beskerm nie,” het Le Roux gesê.

Le Roux sê dat dit nou dringend noodsaak­lik is dat ‘n spesialis­eenheid wat net op plaasaanvalle en moorde werk, ingestel moet word.

“Daar word ook geëis dat misdaadintelligensie prioriteit moet geniet, sodat die moorde en aanvalle voorkom kan word. Dit is gewoon nie meer genoeg om ná ‘n moord of aanval ‘n poging aan te wend om die sosiale terroriste te vang nie. Alhoewel georganiseerde landbou dankbaar is vir elke SAPD-lid wat ‘n krimineel vastrek, is die nie meer genoeg nie. Die skade is gedoen. ‘n Lewe is geneem,” het Le Roux gesê.

Wat betref die optrede van politici, soos in Malema se geval, het die TLU SA se provinsiale veiligheidskomitee op 9 Maart in ‘n vergadering met die LUR van Veiligheid, me. Dikeledi Magadzi, dit duidelik gestel dat “onverant­woordelike uitsprake van politici en regeringsamptenare ‘n gevaarlike klimaat skep waarin wit kommersiële boere as kriminele gebrandmerk word”. Tydens dieselfde vergadering het die TLU SA geëis dat plaas­aanvalle en plaasmoorde as ‘n aparte misdaad beskou moet word en as ‘n prioriteitsmisdaad gelys moet word. Die TLU SA het dit ook duidelik gestel dat die plaaswagstelsel sal aanhou om hulle taak uit te voer soos in die verlede.

“Kommersiële land­bou het geen ander keuse nie, want ons mense word weekliks wreed vermoor en vermink,” was georganiseerde landbou se boodskap aan Magadzi. Dit is ook tydens die vergadering op rekord geplaas dat plaasbewoners die reg voorhou om met die nodige dissipline, maar met gelyke weerstand, op te tree teen dié wat plaasbewoners aanval en vermoor.

 

Written by

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines