

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 March 2010
Oudergewoonte was daar geen tekort aan opgewonde gesiggies tydens 515 Eskader van LMB Makhado se jaarlikse kamp vir verstandelik-gestremde kinders verlede week by Lianga Lodge nie.
Alhoewel ‘n rapsie minder kinders hierdie jaar se kamp bygewoon het, het die kamp steeds gesorg vir sterbelaaide ogies. Hierdie jaar het ongeveer 70 kinders die kamp bygewoon, waarvan die groot meerderheid van plaaslike skole gekom het.
Kinders het gedurende die kamp die kans gekry om die weermaglewe te ervaar, wat in hulle normale lewe nie moontlik sou gewees het nie. Hulle is party oggende vroeg uit die vere gejaag om te gaan draf en driloefeninge te doen.
Die hoogtepunt van die kamp was egter toe 19 Eskader die kinders onthaal het en almal op ‘n helikoptervlug geneem het in ‘n Oryx-helikopter. Van die kinders wat ‘n bietjie skrikkerig was vir die helikopter is vinnig deur hul maats omgepraat om saam te vlieg.
Na afloop van die vlug was daar geen teken te bespeur van enige skrikkerigheid nie en het daar groot opgewondenheid geheers, soos wat almal oor en weer vir mekaar vertel het van hulle ervarings.
Almal wou natuurlik net wéér vlieg.
Die kamp is weereens afgesluit met die hou van ‘n parade, waar daar sertifikate aan die leerlinge uitgedeel is. Kinders wat uitsonderlik gepresteer het gedurende die kamp het spesiale sertifikate ontvang.
515 Eskader het hul dank uitgespreek teenoor almal wat die kamp moontlik gemaak het, insluitende die plaaslike Rotariërs (Distrik 9250), Vriende van die Lugmagbasis Makhado, sers. Robbie Loots, Spar, Lianga Lodge, Coca-Cola Fortune (Louis Trichardt), Limpopo Melkery, Leach Printers, Dinnermates, Spur, AMG, Fruit & Veg City, 19 Eskader en Tafelronde 66 (Soutpansberg), Koroni Hotel & Casino, 85 Geveg Vliegskool, 17 Eskader en Charmaine Botha.

ADVERTISEMENT:
