ADVERTISEMENT:

 

Wydverspreide reën laat damme styg

 

News  Date: 19 March 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die wydverspreide, deurdringende reën in die vroeë oggendure van Vrydag, 12 Maart, het harte weer laat bons en damme verder laat styg of oorloop.

Daar was nie een weerstasie in die omgewing wat oorgeslaan is met die goeie reënneerslae Donderdagnag nie. Vrydagoggend is lesings van 71,5mm by Elim, 67,8mm by Louis Trichardt, 52,5mm by Mara, 51mm by Musina, 45mm by Levubu, 45mm by Thohoyandou, 44,5mm by Soekmekaar, 42,3mm by Waterpoort, 17mm by Bandelierkop, 15,5mm by Tshipise en 7,6mm by Pontdrift gemeet.

Danksy die goeie neerslae verlede week het Louis Trichardt se totale reënval vir die eerste sestien dae van Maart op 322.9mm te staan gekom. Dit is noemenswaardig as in ag geneem word dat daar volgens Shefeera Plantasies se reënvalregister net eenmaal sedert 1978 'n syfer van bo 300m vir Maart aangeteken is en dit was vir 'n hele maand, gemeet in Maart 1991 (317mm).

Thohoyandou se reënval vir die eerste sestien dae van die maand was 313,5mm. In die ooreenstemmende tydperk is 279,7mm op Levubu, 221mm op Soekmekaar, 91,5mm op Mara, 91,2mm op Pontdrift, 87,8mm op Waterpoort, 85mm op Musina en 23,6mm op Tshipise gemeet.

Waar die aanhoudende reën die harte van veral boere bly gemaak het, was daar vir sommige inwoners 'n paar benoude oomblikke, veral weens daklekke en die toestand van paaie. Inwoners van die Sinthumule-area ondervind groot ongerief met die sluiting van die Sinthumule-pad.

Wat damvlakke betref, het die Albasinidam se vlak teen Woensdag (17de) opgestoot na 67%. Twee dae tevore het die damvlak op 66,7%gestaan. Die dam was aan die begin van Maart slegs 43% vol.

As die Albasinidam vol is, kan die dam 26,6 miljoen kubieke meter water stoor. Dit is interessant om daarop te let dat die onvoltooide Nandonidam reeds oor 25,4 miljoen kubieke meter beskik. Dit verteenwoordig tans slegs 15% van die Nandonidam se volle kapasiteit. As die dam klaar is, sal dit 164 miljoen kubieke meter water kan hou. Daar word met groot verwagting uitgesien na die dag wat die Nandonidam voltooi is en die volle kapasiteit water bevat. Deur middel van pypleidings sal 'n wye gebied vanaf die Nandoni bedien word. Dit sluit ook Louis Trichardt in, oor 'n afstand van ongeveer 110 km. Ingenieurs spekuleer of die Nandoni nou met hierdie reëns vol sou gewees het indien dit reeds voltooi was. Op die huidige walhoogte van 15 meter, loop die Nandoni reeds oor.

Ander damme vertoon eweneens goed. Boere berig dat die Spiesdam die eerste keer oorloop sedert dit herstel is na die vloedskade van 2000. Die Thate Vondodam, met 'n inhoudsmaat van 30,5 miljoen kubieke meter water, is 102,39% vol, terwyl die Hudson Ntsanwisidam met 'n kapasiteit van 24,4 miljoen kubieke meter water 102,2% vol is. Die Nzheleledam, wat 55,3 miljoen kubieke meter water kan hou, is 82,53% vol. Die Middel-Letabadam, die grootste dam in die provinsie met 'n kapasiteit van 184 miljoen kubieke meter water, staan op 60,21%.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines