ADVERTISEMENT:

 

Veilig tuis ... Oom Dirk (middel voor) en sy twee hondjies, Jasper en Driesie, pronk verlig saam met ‘n paar van die reddingswerkers wat die afgelope naweek na hom moes gaan soek, nadat hy in die Soutpansberg verdwaal het.

Reddingsdrama in Soutpansberg

 

News  Date: 26 March 2010

 

Binne ‘n oogwink het ‘n 68-jarige toeris van Pretoria in die Soutpansberge verdwaal, minute nadat sy vrou teruggekeer het na die egpaar se voertuig.

Mnr. Dirk Hanekom en sy eggenote, Engela, was die afgelope naweek gaste by mnr. John Greaves se lodge, Buzzard View Moutain Retreat, sowat 30 km van die dorp op die Vivo-pad. Oom Dirk het vandeesweek vertel hoedat hy en sy vrou, Engela, ‘n bietjie die veld gaan verken het by die plaas se uitkykpunt, ook beter bekend as World’s View.

Terwyl tannie Engela teruggegaan het om by die bakkie te wag, het oom Dirk nog ‘n entjie gaan stap met sy twee hondjies, Driesie en Jasper.

Hy het egter nie ver gevorder nie, toe ‘n “groot mis” hulle meteens omhul. Terselfdertyd het die onweerswolke saamgepak en “ou Driesie” het hom boeglam geskrik vir die donderweer.

“Ek was bang die hond stort van die kranse af en het hom probeer vang,” vertel oom Dirk.

Met Driesie weer veilig by sy oubaas, het oom Dirk skielik besef dat hy homself in ‘n penarie bevind. Hy het eers na tannie Engela geroep, waarna hy probeer om op sy spore terug te loop na die plek waar hulle die voertuig gestop het. Die digte miswolke het dit egter onmoontlik gemaak vir hom om te sien waar hy loop.

“So met die lopery het ek mettertyd op ‘n watervoortjie afgekom en maar al langs die voor gehou, in die hoop dat ek weer by ‘n pad sou uitkom.”

Dít alles het Sondag omstreeks 12:00 gebeur. Nadat tannie Engela tevergeefs geroep het, het sy gaan hulp soek.

Mnr. Greaves het dadelik na die plek gery waar oom Dirk laaste gesien is, maar na ‘n uur se soek besluit om sy buurman, mnr. Simon van Heerden, se hulp in te roep. Simon het dadelik besluit om eerder die hulp van Genl. Chris Delport van die Makhado Lugmagbasis te vra.

Sommer vinnig is die basis se reddingspan, onder leiding van AO1 Johan Jansen, ontplooi.

Intussen het die son al begin water trek, terwyl oom Dirk steeds al langs die watervoor bly stap en later in ‘n steil krans vasgeloop het.

“Toe dit nag word, ek het maar ‘n gemaklike rotslysie gesoek vir ons drie manne, sodat ons darem half gemaklik kon slaap,” het oom Dirk gesê.

Die yskoue rots het egter min geleentheid gebied vir slaap, en dit was boonop so koud dat die driemanskap mekaar probeer “warm bewe het”. Dan was daar die gevaar van luiperds en oom Dirk het kort-kort na sy knipmes gegryp as die honde begin blaf het. Later het hy homself bewapen met ‘n stok. Gelukkig het die luiperds nie naby sy “kampplek” gekom nie.

Terug in die beskawing het die lugmagbasis se reddingspan by mnr. Van Heerden se plaas opgedaag en solank begin soek, alhoewel dit al reeds te donker was. Later die aand het die Mountain Rescue Club van Johannesburg ook opgedaag, nadat genl. Delport hulle hulp ontbied het. Alle reddingswerk moes egter gestaak word vir die aand weens die digte mis. Omtrent almal het die ergste gevrees.

“Weet jy wat gaan in daardie stadium deur jou kop? Ons was bang hy raak gedisoriënteer, veral omdat hy ‘n diabeet is,” het mnr. Van Heerden vertel.

Juis om hierdie rede is daar vroeg Maandagoggend spanne bymekaar gekry om die soektog na oom Dirk te begin. Omdat die weer saamgespeel het, het LMB Makhado ‘n vastevlerk vliegtuig gereël om die area vanuit die lug te fynkam.

Oom Dirk, wat nie “moedverlore rondgesit” het nie, het intussen besluit om die steil kranse tot bo te klim toe hy die vliegtuig hoor aankom. ‘n Vlag wat hy sommer vinnig uit sy hemp geprakseer het, kon egter nie die vlieënier se aandag trek nie. Hierna het die mis weer begin uitsak en die vliegtuig moes die aftog blaas.

Bo-op die krans het die twee honde opgewonde begin blaf en oom Dirk kon hoor hoe mense na hom roep.

“Toe die reddingspanne my kry, het ek so skaam gekry dat soveel mense ‘n dom ou, wat nie sy kop kan gebruik nie, kom help het,” het oom Dirk laggend gesê.

‘n Vinnige mediese ondersoek het getoon dat hy gelukkig genoeg was om net met ‘n klompie skrape en kneusplekke van die petalje af te kom.

“Hierna het hulle my met ‘n tou vasgemaak, sodat ek nie weer kon wegloop nie,” het oom Dirk geskerts. “Toe is ons terug plaas toe.”

Terug op die plaas is daar ‘n groot braai gereël vir al die reddingswerkers en is daar lekker gekuier om die vuur. Ná afloop van die voorval het oom Dirk ewe pittig opgemerk dat hy seker is sy armspiere is nou ‘n halfduim dikker van al die oefening wat hy gekry het.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines