ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Hannes du Toit (inlas) het erge beserings opgedoen in 2006, nadat 11 000 volt deur sy liggaam gegaan het en hy meer as 9 meter ver geval het. Foto’s verskaf.

Geregtigheid seëvier ná jarelange hofstryd

 

News  Date: 26 March 2010

 

Ná ‘n uitgerekte Hooggeregshofstryd seëvier geregtigheid uiteindelik vir ‘n 69-jarige elektrisiën van Musina.

Op 16 April 2006 ruk 11 000 volt deur mnr. Hannes du Toit se liggaam, terwyl hy gekontrakteer was om elektriese herstelwerk vir die Musina Munisipaliteit te verrig. Hy is ernstig beseer, maar dit was net die begin van sy trauma.

Ná die voorval probeer Du Toit teen die Musina Munisipaliteit eis, maar die munisipaliteit se versekeraar, Lion of Africa, keur sy eis af. Daarna volg ‘n vier-jaar-lange regstryd wat uiteindelik in die Pretoriase Hooggeregshof eindig, met Du Toit as eiser en die munisipaliteit as verweerder.

Dit was ‘n blye dag vir Du Toit toe die hooggeregshof op 24 Februarie vanjaar 100% in sy guns uitspraak gelewer en bevind het dat die munisipaliteit 100% nalatig was.

“Ek is geseënd om te kan lewe en deur die genade van Bo is die hofsaak gewen,” het Du Toit verlede week aan die Zoutpansberger gesê.

Du Toit se prokureur, mnr. Leon Maré, het meer lig gewerp op die gebeure wat aanleiding gegee het tot die voorval en die uiteindelike hofuitspraak.

Volgens Maré is Du Toit deur die Musina Munisipaliteit in diens geneem om ‘n kragkoppeling te doen vanaf die hooftoevoer na Musina Toyota. Du Toit self het met die munisipaliteit gereël om die hooftoevoer af te skakel. Nadat die munisipaliteit hom verseker het dat die hooftoevoer afgeskakel is, het hulle vir hom ‘n plek aangewys waar hy kan gaan toets. By daardie plek het die krag dood getoets.

Du Toit, ‘n gekwalifiseerde elektrisiën wat by Eskom gewerk het en na sy aftrede sy eie besigheid begin het, vertel verder.

“Met die versekering dat die krag dood is, het ek die 9.5 meter opgeklim. Voor ek my gordel vasmaak, raak ek aan die ‘dooie’ kraglyn, wat toe al die tyd lewendig was. Die verkeerde kraglyn is afgeskakel en ek is na die verkeerde kraglyn gestuur om ‘dood’ te toets.”

Die slag het ‘n gat so groot soos ‘n tennisbal in Du Toit se been geruk. Hy het die 9,5meter grond toe getuimel en op sy kop geland. In die hospitaal moes hy 28 steke vir ‘n kopwond ontvang, asook steke vir veelvoudige snye aan sy liggaam. Dit was buiten die ernstige brandwonde en nek-, rug- en beenbeserings wat hy opgedoen het.

Operasies en lang mediese behandeling het gevolg. Du Toit se regter femur was sleg gebreek en ‘n staalpen moes ingesit word.

“Ná my ongeluk het my vrou, Ina, ‘n heupoperasie gehad. Daarna is ons wreed aangeval en ek is nege keer met ‘n mes gesteek. Ina het twee messteke gekry en is verkrag. My nekoperasie het gevolg. Daar is toe weer by ons ingebreek, maar ek het hulle met die rewolwer weggejaag. Ná Ina se verkragting moes sy ‘n rugoperasie ondergaan,” vertel Du Toit.

Al die Du Toit’s se spaargeld en pensioengeld het in die mediese onkoste gegaan. Intussen het hulle die hofsaak geveg met die hulp van Maré, advokaat Etienne Prinsloo en die getuienis van ‘n elektriese ingenieur, mnr. Roelf Loots.

In die hof kon jy ‘n speld hoor val toe regter Bredenkamp op 24 Februarie uitspraak gelewer het. Mnr. Jacob en mev. Martiena Badenhorst van Johannesburg was dié dag in die hofsaal.

“Ons het met deernis gesit en luister hoe mnr. Du Toit se teenparty advokaat hom en sy bejaarde handlanger met strikvrae probeer vasvang. Maar eerlikheid en geregtigheid het geseëvier. Die regter het die getuienis van die munisipaliteit se beampte as ongeloofwaardig bestempel ... Mnr. Du Toit, die regter blyk die grootste respek en eerbied vir jou as persoon en jou eerlike karakter en getuienis te hê en het dit ook so in sy uitspraak gestel,” skryf die Badenhorsts in ‘n brief aan die Zoutpansberger.

By die aanhoor van die uitspraak was Ina sprakeloos en het in trane uitgebars.

“Ons glo die Here het ons gehelp. Deur die moeilike tye het Psalm 40 se woorde ons gedra. Ons is dankbaar dit is agter die rug,” sê Du Toit.

Die prokureur vir die munisipaliteit se versekeraar, me. Suzanne Pretorius, het bevestig dat die uitspraak 100% in die eiser se guns gelewer is.

“Daar is net uitspraak gegee op meriete en nog nie op quantum nie,” het Pretorius gesê. Daar moet dus nog uitspraak ten opsigte van die bedrag gegee word.

Maré het verlede week gesê dat hy reeds aansoek gedoen het vir ‘n verhoordatum waar die skadevergoeding deur die hof beslis moet word.

“Die prokureurs van die versekeraar kan egter dalk skik oor die bedrag. Die eis vir skadevergoeding as gevolg van die munisipaliteit se nalatigheid is meer as R5 miljoen. Ons verwag egter dat die bedrag gaan verhoog nadat ons die aktuaris se verslag ontvang het.”

Die Musina Munisipaliteit het by monde van hul woordvoerder, mnr. Wilson Dzebu, gesê dat hulle nog geen kommentaar oor die saak kan lewer nie, aangesien hulle tegniese bestuurder met verlof is.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines