ADVERTISEMENT:

 

Wyle Tant Fienie (99).

Tant Fienie se stem raak stil na 99 jaar

 

News  Date: 26 March 2010

 

Mev. Stephanie Cronjé, moeder van mev. Yvonne Langley, is op 21 Maart, aan huis van haar skoonseun en dogter op hul plaas Ringer, in die hoë ouderdom van 99 jaar en bykans 7 maande oorlede.

Die laaste van 14 kinders is sy op 25 Augustus 1910  in die Swartruggens distrik gebore. Sy is in 1929 getroud met Cornelius (Corrie) Cronjé en die egpaar het twee seuns en ‘n dogter gehad. Haar man het haar in 1973 ontval  toe hulle reeds afgetree was en op Swartruggens gewoon het. Beide sy en haar eggenoot was boorlinge van daardie distrik en het die meeste van hul lewens daar geboer. Yvonnne en haar ouer broer, Rowan, het ook aan die Rodeon Hoërskool in Swartrug­gens gematrikuleer.

Tant Fienie, soos sy allerweë bekend was, was op haar dag aktief in die SAVF, die Hervormde Sustersvereniging en die Transvaalse Vroue Landbou-unie. Sy was ‘n uithaler tuinier en het haar lewe lank ‘n mooi blomtuin en spoggerige groentetuin gehad. Hierbenewens was sy ‘n uithaler gasvrou en bekend vir haar disse en gebak. Tussenin het sy tyd gemaak vir borduuur- en tapisseriewerk en van laasgenoemde hang daar talle spogstukke in Yvonne se huis.

Sy het die afgelope 35 jaar by haar dogter en skoonseun (Yvonne en Thomas Langley) gewoon en meegeleef in al hulle bedrywighede, terwyl sy ‘n lewendige belangstelling in die wel en weë van haar kinders en kleinkinders behou het. Tydens advokaat Langley se ambassadeurskap in die Tseggiese Republiek het sy hulle vergesél en aldaar te alle tye meegehelp met die talle onthale en etes wat in die ampswoning aangebied is. Sedert hulle terugkeer na die Langleys se plaas agter die berg het sy tot ‘n paar maande gelede nog ywerig meegedoen aan die onderhoud en bewerking van beide die blom- en groentetuin en ook etlike borduur- en naaldwerkstukke voltooi. Tot op die laaste, in haar nege-en-negentigste jaar, het sy haar naaldwerk sonder ‘n bril gedoen. Tot in Desember verlede jaar het sy vryelik beweeg met behulp van ‘n stootstoel, maar toe ongelukkig geval. Daarna het sy geleidelik verswak totdat sy verlede Saterdagmiddag sag heen is by Thomas en Yvonne aan huis. Sy word oorleef deur haar seun, Rowan en sy eggenote Edelweiss, dogter Yvonne en haar eggenoot Thomas, ses kleinkinders, waarvan vyf getroud is, en sewe agterkleinkinders.

‘n Gedenkdiens vind op Vrydag, 26 Maart om 11:00 plaas aan huis van Thomas en Yvonne op die plaas Ringer, ongeveer 30 km vanaf Waterpoort op die Alldays-pad.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines