

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 March 2010
By die ingang van die dorp in Rissikstraat is daar by ‘n vulstasie ‘n verskynsel wat nêrens anders in die dorp aangetref word nie.
Die oplettende verbyganger sal sien dat die randstene helder swart en wit geverf is by die hoeke van Klein- en Rissikstraat.
Die afgelope tien jaar is dit een van die take wat me. André Gilfillan van Bridge Motors haarself opgelê het. “Ons is hier by die ingang van die dorp en dit moet netjies lyk as mense die dorp binnekom,” sê me. Gilfillan.
Elke oggend maak personeel van Bridge Motors die hele terrein skoon, nie net by die vulstasie nie, maar ook in die dam en die parkie oorkant Kleinstraat.
Dit is reeds hierdie parkie wat André na die telefoon laat gryp het.
“Ek het in die Zoutpansberger van 12 Maart van die vergadering met die munisipaliteit gelees en dat hulle versoek dat die publiek tog ‘n parkie moet aanneem. Ek doen dit al ‘n klomp jaar. Maar ek het ook ‘n versoek,” het André gesê.
Wat die aanneem van die parkie betref, maak André se mense elke dag daar skoon en tel die omliggende persele se gemors ook op. Hulle maak by die dam skoon en tel alles op wat almal daar langs die asblikke neergooi. Hulle het spesiaal ‘n grasmasjien en randsnyers aangekoop om die gras oorkant die pad by die dam te sny. Elke dag word die stof uit die strate weggevee. Swart sakke word by die hope aangekoop en volgemaak.
“Dit kan so ‘n pragtige parkie wees. Ek gee my samewerking, maar ek verwag dat die munisipaliteit ook hulle samewerking gee. Ek vra dat die vuilis gereeld verwyder word, ten minste elke tweede dag. Daar behoort ook ‘n tweede groot houer vir vuilis aangebring te word,” sê André.
Die gereelde vuilisverwydering en die aanbring van ‘n tweede groot houer is onder die aandag van Makhado Munisipaliteit se direkteur van Tegniese Dienste, mnr. Thivho Ralulimi, gebring. Teen druktyd is daar nog nie terugvoer ontvang nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
