ADVERTISEMENT:

 

Kuierplek kan weer sake doen soos voorheen

 

News  Date: 02 April 2010

 

Ná ‘n nagmerrie regstryd van meer as ‘n jaar, slaak die personeel en eienaar van die Grasdak Gastehuis op Louis Trichardt weer ‘n sug van verligting. Dit nadat die Dorperaad verlede week besluit het dat die gewilde kuierplek kan voortgaan om die onderneming te bedryf volgens dieselfde bepalings as die aanvanklike spesiale toestemming wat aan hulle in 1996 verleen is.

Eienaar Annette du Preez sê haar nagmerrie het op 5 Januarie 2009 begin, toe sy ‘n skrywe vanaf die Makhado Munisipaliteit ontvang het waarin sy in kennis gestel is dat die munisipaliteit se spesiale toestemming aan haar om ‘n gastehuis en restaurant te bedryf, verval het en dat sy binne 30 dae haar deure sou moes sluit.

Die volgende dag het Annette met die munisipaliteit se regsverteenwoordiger vergader om die nodige vorms te verkry om die spesiale toestemming vir ‘n verdere 24 maande te hernu. Dit was toe dat sy die nuus kry dat sy gaan sukkel om weer toestemming te kry, aangesien hulle ‘n beswaar van ‘n lid van die publiek ontvang wat betref die bedryf van die onderneming. Die besware was onder meer ten opsigte van geraasvlakke, verkeers­beheer en die bedien van die algemene publiek in die restaurant.

Inderhaas het Annette opdrag gegee vir die bring van ‘n aansoek om spesiale toestemming vir die gebruik van die perseel vir oornag akkommodasie, ‘n gastehuis, restaurant en alle verwante aktiwiteite ingevolge die dorpsbeplanningskema. Die aansoek is op 21 Januarie verlede jaar ingedien.

Op 30 April 2009 ontvang Annette kennis dat die munisipaliteit haar aansoek oorweeg het, maar dat die Raad se uitvoerende komitee besluit het om dit af te keur, in afwagting op ‘n verhoor waartydens daar geluister sou word na die besware en die Grasdak se antwoorde daarop. Dié verhoor het op 16 Mei verlede jaar plaasgevind.

Uiteindelik, op 20 Augustus, ontvang Annette skriftelik kennis dat die munisipaliteit haar aansoek goedgekeur het, maar onderhewig aan nuwe voorwaardes. Dit het onder meer behels dat sy slegs oornaggaste in haar restaurant mag bedien en nie inloopgaste nie.

Hierdie nuwe voorwaardes, sê Annette, het egter die bedryf van haar onderneming so beperk, dat sy geen ander keuse gehad het as om te appelleer teen die munisipaliteit se besluit nie. Haar appèl is op 18 September by die provinsiale departement van Plaaslike Bestuur en Behuising in Polokwane ingedien.

Nog ‘n skok het gewag op Annette, toe die departement haar laat weet het dat haar appèl nie betyds ontvang is nie. Dit sou egter later blyk dat die departement ‘n foutiewe berekening van die tydperk gemaak het.

Maande het verby­gegaan. Uiteindelik, op 8 Maart vanjaar, ontvang Annette kennis dat die Dorperaad ‘n inspeksie van haar perseel wil kom hou, direk gevolg deur ‘n vergadering waartydens haar appèl aangehoor sal word.

Hierdie inspeksie en vergadering het verlede week Woensdag (24ste) plaasgevind. Tydens die vergadering wys Annette se regspan van Van der Westhuizen Prokureurs die raad daarop dat die besware teen die Grasdak wat in die munisipaliteit se verhoor op 16 Mei 2009 aangevoer is, ongegrond en op hoorsê gebaseer was.

Dit was ‘n blye oomblik vir Annette toe die Dorperaadkomitee, wat die appèl aangehoor het, hulle gelyk gegee en in hul guns beslis het. Hul besluit, kortliks, kom daarop neer dat Annette die Grasdak op basies dieselfde voorwaardes kan bedryf as dié van die aanvanklike spesiale toestemming wat in 1996 aan haar gegee is. Die komitee stel ook die die munisipaliteit se nuwe voorwaarde dat die Grasdak-restaurant slegs oornaggaste mag bedien, tersyde en sê hulle mag enige iemand bedien. Rakende die beswaar rondom verkeersbeheer, het die komitee beslis dat Annette nie verantwoordelik is vir die manier waarop gaste bestuur wanneer hulle die kuierplek verlaat nie, aangesien dit die verkeersafdeling se verantwoordelikheid is.

Die enigste streng voorwaarde wat egter deur die komitee gestel is, het betrekking gehad tot geraasvlakke. Daar is ooreengekom dat geraasvlakke nie 85 desibels sal oorskry nie en dat die munisipaliteit self hierdie lesing sal neem by die Grasdak se voordeur.

Annette sê sy en haar personeel is dankbaar dat hulle hierdie hoofstuk in hul lewens kan afsluit. Dit was ‘n traumatiese tydperk vir Annette, nie net wat betref die regstryd nie. In Junie verlede jaar is sy met aggressiewe kanker gediagnoseer en moet steeds herhaaldelik bestraling ontvang.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines