

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 April 2010
‘n Bakkie waarvan die remme op onverklaarbare wyse ophou werk het, het verlede Donderdag vir groot moles gesorg by die N1/Thohoyandoupad-kruising op Louis Trichardt.
Die bakkie, wat in ‘n suidelike rigting gereis het, se remstelsel het skielik onklaar geraak etlike kilometers vóór die kruising.
Volgens polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike, het polisielede wat die N1 gepatrolleer het, opgemerk dat die bakkie teen ‘n onrusbarende spoed verby hulle gejaag het. Die bakkie is agternagesit in ‘n poging om die bestuurder sover te kry om van die pad af te trek.
Ongelukkig vir mnr. Steven du Toit het die bakkie se dolle vaart eers tot ‘n einde gekom nadat dit teen die sykant van sy Telkom-diensvoertuig vasgejaag het. Du Toit was besig om in Thohoyandou se rigting die kruising oor te steek, toe die voortsnellende voertuig hom getref het. Die impak was so groot dat Du Toit se bakkie die lug in geskiet het en op sy dak te lande gekom het.
Du Toit kon gelukkig daarin slaag om sy veiligheidsgordel los te kry, voordat hy die venster van die bakkie afgedraai en onder die bakkie uitgekruip het.
Die bestuurder en passasiers van die ander bakkie het geringe snye en kneusplekke opgedoen en is per ambulans na die provinsiale hospitaal vervoer vir verdere behandeling.
Wonderbaarlik is niemand ernstig in die ongeluk beseer nie.
‘n Saak van nalatige en/of roekelose bestuur word ondersoek.

ADVERTISEMENT:
