

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 April 2010
Die Voorsitter van die TLU SA se provinsiale veiligheidskomitee, mnr. Doors le Roux, het landbouers versoek om nie op loop te jaag met die oproep tot moord op wit mense op die Julius Malema Facebook-bladsy nie.
Le Roux het gesê dat landbouers hulle nie deur “terroriste en gesiglose bang lawaaimakers” moet laat skrik maak nie.
“Daar kon nog nie vasgestel word wie die persoon is wat die boodskap geskryf het nie. Maar dit beteken nie dat daar gemaak moet word asof daar nie swartes is wat doelbewus wit mense wil doodmaak nie. Dit beteken ook nie dat die boodskap afgemaak moet word nie. Dit beteken wel dat ‘boere’ al vir baie jare met die boodskap en dreigement saamleef - dis tog nie iets nuuts nie,” het Le Roux gesê.
Derhalwe het Le Roux landbouers versoek om seker te maak dat hulle by hulle veiligheidstrukture inskakel en aktief daaraan deelneem.
Le Roux het dit duidelik gestel dat hulle nie “skaaplammers is wat dom en magteloos” maar net voortstrompel nie.
“Ons is roepingsbewuste mense in sterk gemeenskappe wat skerp besluite op ‘n koelkop manier neem. Ons laat ons nie afdreig nie. Ons laat ons nie bangmaak nie - en as ons bang is, dan vind ons krag in ons gemeenskap en ons strukture,” het Le Roux gesê.
Le Roux het gesê: “Ons is gelowiges. Ons laat ons nie deur die wat deur die duiwel geïnspireer is, afdreig nie. Die feit dat ons in ‘n land bly waar die klimaatskepping teen witmense aanvaarbaar is, maak ook nie ons verantwoordelikheid teenoor mekaar minder of meer nie. Laat ons nie ons roeping en ons verantwoordelikheid meet aan die krimineel se gedrag nie. Ons weet wat ons roeping is. Ons ken ons verantwoordelikheid. Dit was altyd so, en so sal dit bly.”
Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles.

ADVERTISEMENT:
