ADVERTISEMENT:

 

Wyle mev. Alida Coetzee (84). Foto verskaf.

Beminde Tannie Alida oorlede

 

News  Date: 02 April 2010

 

Een van die dorp se welbekende persoonlikhede, mev. Alida Johanna Coetzee (84), is Saterdag in die Zoutpansberg Privaathospitaal ná ‘n kort siekbed oorlede.

Tannie Alida is op 8 Mei 1926 op die plaas Klippunt naby Hoopstad in die destydse Wes-Transvaal gebore. Sy het haar skoolloopbaan op 14-jarige ouderdom met lof geslaag, waarna sy oorgeskuif het na die Huishoudkunde Skool by Hartbeespoortdam.

Dit was terwyl Tannie Alida klas geloop het, dat sy een naweek haar toekomstige eggenoot, Dirk Nicolaas Stephanus Coetzee, ontmoet het. Hulle het later, op 11 Desember 1942, in die huwelik getree en hulle op Louis Trichardt gevestig om ‘n gesin te begin.

Die egpaar het vir eers in Munnikstraat gewoon, langs wyle ds. Van Schoor, waarna Oom Dirk ‘n eiendom in Andersonstraat koop en die gesin vir 42 jaar lank daar gebly het. Hy is oorlede op 1 Julie 1994.

Tannie Alida het vier kinders gehad, waarvan haar een dogter en enigste seun reeds oorlede is. Die oorblywende kinders is mev. Johanna Eyssell en mev. Alida Venter. Daar is 13 kleinkinders, 17 agterkleinkinders en een agter-agterkleinkind.

Gedurende haar lewe, het Tannie Alida graag die allerfraaiste babakleertjies gebrei en die heerlikste koekies en beskuit uit haar “warm kombuis” gebak.

Sy was geliefd onder familie en vriende en bekend as ‘n waardige mens met ‘n oop hart vir haar medemense.

Ná haar seun Abel se afsterwe, het Tannie Alida vir ‘n tyd lank by haar dogter, Alida, gaan woon, voordat sy vir tien jaar lank haar intrek by Laat Lente geneem het. Hierna het sy tot haar afsterwe by haar ander dogter, Johanna, gebly.

Haar begrafnisdiens was op Woensdag, 31 Maart, vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente.

Die familie het elkeen bedank wat haar lewe mooi gemaak het.

“Eerstens bedank ons ons Hemelse Vader vir haar lewe,” het die familie gesê.

‘n Spesiale woord van dank het ook gegaan aan die personeel van die Zoutpansberg Privaat Hospitaal vir hulle liefdevolle versorging, asook drs. Stroebel en Van der Walt.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines