ADVERTISEMENT:

 

Wyle Jacobus Engelbrecht (28).

Jong inwoner sterf na motorongeluk in Amerika

 

News  Date: 09 April 2010

 

Inwoners het die afgelope week met hartseer verneem van die dood van ‘n bekende jong man van Louis Trichardt, die 28-jarige Jacobus Engelbrecht, ná ‘n motorongeluk in Amerika op Sondag, 28 Maart.

“Alhoewel mense gereeld verongeluk, verwag jy nie dat dit oor jou pad gaan kom nie. Toe die vrou van Buitelandse Sake vir my vra of ek die pa is van Jacobus Engelbrecht, het ek reeds besef dit gaan nie goeie nuus wees nie”.

So het ‘n hartseer pa Koos Engelbrecht vertel, nadat hulle die nuus van hul seun se dood eers Dinsdagoggend, bykans drie dae ná die noodlottige ongeluk, ontvang het. Maar hieroor is Koos nie bitter nie. Hy sê hy verstaan dat in sulke gevalle daar baie amptelik prosedures is wat eers afgehandel moet word.

Jacobus het einde November verlede jaar vir ‘n derde keer na Amerika gereis om ‘n Suid-Afrikaanse sakeman daar te gaan help met die oes van sitrus op kontrakbasis. Die ongeluk wat sy lewe geëis het, het Saterdag omstreeks 21:15 op ‘n baie stil plaaspad naby Fort Myers in die Staat Florida plaasgevind.

Jacobus was saam met twee ander jong Suid-Afrikaners op pad terug huis toe, toe die bestuurder van die voertuig waarin hulle op reis was op ‘n skerp draai beheer verloor het oor die voertuig. Dit het gevolg nadat die bestuurder deur ‘n aankomende voertuig se hoofligte verblind is. Hul voertuig het ‘n boom getref, omgeslaan en onderstebo in ‘n waterkanaal tot stilstand gekom.

Jacobus het in die voorste passasiersitplek gesit. Die vriend wat agter gesit het, kon daarin slaag om beide Jacobus, wat bewusteloos was, en die bestuurder uit die wrak te bevry. Daarna het hy gehardloop om te gaan hulp soek.

Heelwat later is die vriend uiteindelik deur ‘n verbygaande Meksikaan langs die pad opgemerk, waarna hulp ontbied is.

Jacobus is Sondag omstreeks 01:00 per helikopter vanaf die ongelukstoneel vervoer. Hy is egter onderweg hospitaal toe oorlede. Later is verneem dat die bestuurder van die voertuig sy rug gebreek het. Die vriend wat hulp gaan soek het, het ligter beserings opgedoen.

Jacobus was ten tye van die ongeluk verloof aan Caryn Wright, ook van Louis Trichardt. Die jong paartjie sou op 16 Oktober vanjaar getrou het.

“Daardie Sondagaand het ons nog saam met Caryn na die moontlike gastelys gekyk … toe was hy reeds dood,” vertel Koos.

‘n Roudiens vir wyle Jacobus vind eerskomende Vrydag, 9 April om 11:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente plaas. Die diens sal gelei word deur ds. Jan Pretorius.

Wyle Jacobus word oorleef deur sy ouers, Koos en Thora, susters Corné en Trudie, en verloofde Caryn.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines