

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 April 2010
Bykans 32 huise en ondernemings is beskadig of dakloos gelaat nadat ‘n hewige haelstorm en gepaardgaande sterk wind Musina vroegaand op Maandag, 5 April, getref het. Verslag is ontvang van haelkorrels so groot soos duifeiers.
Van die inwoners het gesê hulle het sowat 55mm gemeet, maar daar is sprake van tussen 80 en 100mm op party plekke in en om die dorp.
Takke is deur die geweldige wind afgeruk en verskeie mure en bome is omgewaai. Verder is bome in die dorp se sakegebied ontwortel, waaronder die groot kremetartboom in die parkeerarea voor Messina Apteek.
Die brandweer moes reeds van vroeg af bontstaan, nadat ‘n reuse palmboom in Willem Smitstraat deur weerlig getref is en aan die brand geslaan het.
Die buurte Bergview en Nancefield het die ergste deurgeloop en is vir die grootste gedeelte van die nag in donker gehul ná ‘n kragkabel in die storm gebreek het. Die Musina Community Centre en stadion is ook onder die geboue waarvan die dakke afgewaai het.
Gelukkig is daar, na wat verneem word, geen ernstige beserings aangemeld nie.
Volgens inligting was die Musina Munisipaliteit steeds besig met skadeberaming teen druktyd en kon daar nog nie ‘n geldwaarde aan die skade gekoppel word nie.

ADVERTISEMENT:
