

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 April 2010
Die drie regsmanne wat daarvan aangekla word dat hulle glo omkoopgeld aanvaar het om hofsake te beïnvloed, het weer verlede week in die landdroshof op Musina verskyn.
Streeklanddros Ronnie Rambau en mnr. Estene Willemse, streekhofaanklaer, het saam met mnr. T.E. Lubisi, ‘n prokureur van Musina, op aanklagte van korrupsie verskyn.
Dié aanklagte teen die drie hou verband met ‘n voorval in Februarie vanjaar toe hulle tydens ‘n polisielokval in hegtenis geneem is. Tydens hierdie lokval is gemerkte geld by Lubisi, Willemse en Rambau gekry, wat deur ‘n polisie-informant betaal is om die uitspraak van ‘n sekere saak te beïnvloed.
Hierdie lokval was geloods in die Musina area, met die doelwit om korrupte beamptes te vang wat die gereg ondermyn het deur ondermeer die minimum vonnis van motordiefstal sake vooraf vas te stel deur middel van pleitooreenkomste. Na bewering het die beskuldigdes ook omkoopgeld in sake van moord en verkragting ontvang.
Intussen is al drie tydens hulle vorige hof verskyning op R10 000 borg vrygelaat, op sekere voorwaardes.
Lubisi se voorwaardes is na sy tweede hofverskyning gelig en hy mag weer sy werksaamhede hervat in die landdroshof. Die Zoutpansberger het egter verneem dat hy sedert sy arrestasie sy kantoor op Musina gesluit het en nou elders praktiseer.
Die ander twee verdagtes se borgvoorwaardes het onveranderd gebly en hulle mag steeds nie naby een van die howe in die streek kom nie.
Mev. Wessels, president van die streekhof, het vandeesweek bevestig dat Rambau met spesiale verlof is weens sy borgvoorwaardes en dat daar tans gewag word op die uitslag van die Landdrostekommissie se ondersoek na sy skorsing.
Die sekretaris van die Landdrostekommissie, mnr. Danie Schoeman, het vandeesweek gesê dat hulle die bewerings ten opsigte van Rambau in ‘n ernstige lig beskou en dat hulle tans besig is met ‘n ondersoek van wangedrag teen hom.
“Die Landdrostekommissie is in die proses om die voorlopige skorsing van Rambau, hangende die uitslag van die ondersoek, teen hom te oorweeg,” het hy gesê.
Die drie se saak is uitgestel tot en met 18 Mei vir verdere ondersoek.

ADVERTISEMENT:
