

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 April 2010
Kroniese wateronderbrekings in sekere dele van Louis Trichardt het talle inwoners se bloeddruk verlede week opgejaag.
Inwoners is totaal in die duister gelaat oor hoekom hul waterkrane skielik oor die naweek opgedroog het.
Sommige het selfs die moeite gedoen om te probeer uitvind wat die fout is, net om in sommige gevalle geen antwoord by die munisipale noodnommer te kry nie.
Een inwoner is meegedeel dat die reservoir leeg was en dat die water Maandag terug sou wees. Nog ‘n inwoner is bloot net meegedeel dat daar ‘n probleem is met die pomp.
Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie, en die koerant het besluit om self die noodnommer te skakel om uit te vind wat die oorsaak was van die onderbrekening in die watervoorsiening op die dorp.
‘n Persoon wat homself bloot as Wilson geïdentifiseer het, het by navraag gesê dat “die pompe stukkend is,” waarna hy die telefoon neergesit het.
Nietemin het klagtes steeds ingekom en teen Woensdag en Donderdag was groot dele van die dorp se sentrale sakegebied ook sonder water.
Mnr. Bobodi het egter Dinsdag verklaar dat die wateronderbrekings veroorsaak is deur ‘n kragonderbreking by die munisipale boorgate, wat die reservoirs se vlakke gevaarlik laag laat daal het, sodat dele van die dorp gevolglik nie water kon kry nie.
Dit was egter nie die einde van die probleem nie. Woensdag het mnr. Bobodi gesê ‘n gebarste pyp wat oor die hoof gesien is, het die probleem vererger, sodat dele van die nuwe uitbreiding, die area bokant Hoërskool Louis Trichardt en die sakegebied van die dorp steeds sonder water gesit het.
“Nadat die kragonderbreking by die boorgate herstel is, is daar aangeneem dat die probleem herstel is. Tegnici het eers later agtergekom dat daar ‘n gebarste waterpyp was,” het hy verduidelik.

ADVERTISEMENT:
