

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 April 2010
‘n Krans blomme, al die pad van Louis Trichardt, is op 1 Maart by die Boeregrafte op St Helena gelê.
Jan en Marijke van Braak het die blomme in Louis Trichardt gekoop en 2 750km ver oor die see vervoer na die begraafplaas van boere wat in gevangenskap gesterf het, terwyl hulle in konsentrasiekampe aangehou is tydens die Anglo Boereoorlog (1899 tot 1902).
Die Van Braak-egpaar is in Holland woonagtig, maar is ook stigterslede van die oorlogsmuseum by die Lalapanzi Hotel net buite Louis Trichardt.
“Dit is vir ons ‘n voorbeeld dat hierdie Hollandse egpaar persoonlik by ons Boeregrafte ‘n krans gaan lê het,” sê me. Inga Gilfillan, wat ‘n reuse rol gespeel het in die oprigting van die Zoutpansberg Skermutseling- en Erfenismuseum. Met die neerlegging van die krans blomme by die gedenkpilare, het Jan ‘n gedig wat hyself geskryf het, voorgedra:
Hier ver van julle Vaderland
weg van plase en bloedverwant
lê julle in vreemde grond begrawe
as nasaat bring ons hier een groet met blomme by die Cenotaphe
op dat die Rooineks hier moet weet
dat ons Boere dit nooit sal vergeet!
Die toneel is deur die Van Braaks se dogter, Roosmaryn, verfilm en sy het agtergrondmusiek van Bok van Blerk bygevoeg.
“Ons het trane in die oë gekry toe ons daarna geluister het,” het Bev Leach, wat nòu betrokke is by die erfenisstigting, gesê. Die briefie by die blomme is gerig aan Helden van Zuid-Afrika, vir vryheid en vaderland.
Ongeveer 6 000 Boere-gevangenes is deur die Britte na die Suid-Atlantiese eiland, St Helena, gestuur. Die lewe in die konsentrasiekampe was in die algemeen eentonig en die verlange na geliefdes, huis en vaderland het baie hartseer en lyding onder die gevangenes tot gevolg gehad. St Helena is ook bekend as die tweede en laaste eiland waarheen Napoleon Bonaparte verban is en waar hy gesterf het.
Jan en Marijke het met die enigste posboot wat nog vaar na St Helena geseil. Hulle het die vyf dae heenreis, vier dae op die eiland en die vyf dae terugreis na Suid-Afrika ‘n aangename ervaring gevind.
“Daar is vir St Helena toekomsplanne om ‘n landingstrook te maak, sodat meer toeriste dan per vliegtuig die eiland kan gaan besoek. Dan sal die posboot miskien verdwyn of net as vragskip gebruik word,” sê Jan.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
