ADVERTISEMENT:

 

Jong man oorleef skoot deur nek

 

News  Date: 19 March 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - "My lewe het in ‘n oomblik heeltemal verander. Iemand het my duidelik gehelp en teen die dood beskerm en dit was nie die werk van ‘n mens nie."

So het 25-jarige Frikkie Venter, tweedespan slot van die Louis Trichardt Rugbyklub, vandeesweek getuig oor die wyse waarop hy die dood en ernstige besering vrygespring het toe ‘n gewapende rower hom verlede week op kort afstand deur sy nek geskiet het.

Die koeël het regdeur sy nek beweeg sonder dat enige ernstige skade aangerig is.

"Ek het die knal gehoor maar niks gevoel nie. Ek was die heeltyd by my volle bewussyn. Die plek is nou net soms effens gevoelig waar die koeël uit is," vertel hy.

Sy noue ontkoming het verlede Donderdagaand plaasgevind, toe hy en sy vriendin, Carol Promnitz, by ‘n kafee by ‘n vulstasie aan die suidekant van die dorp aangery het.

"Met die stilhou het ek gesien daar’s fout. Mense het op die vloer gelê en ek het besef daar is ‘n rooftog aan die gang. Ek het onmiddellik vir Carol gesê om plat te val en ek het probeer wegjaag."

Carol het vorentoe gebuig en dit het waarskynlik haar lewe gered.

‘n Gewapende rower, wat uit die kafee op die voertuig afgestorm het, het ‘n skoot deur die voertuig se venster na die bestuurder se kop gevuur.

"Ek het hom nie gesien nie, maar net die skoot hoor knal. Ek kon nie my nek draai nie en my voet het op die brandstofpedaal vasgeskop. Daar was heelwat bloed."

Nadat die koeël deur Frikkie se nek getrek het, het dit die passasiersitplek se rugleuning deurboor waar Carol nog ‘n oomblik tevore gesit het en teen die raam van die linker agterdeur vasgeslaan. Die koeël het weggeskram en voor by haar voete geval.

Die voertuig het vinnig in ‘n volle sirkel oor die rybaan van die vulstasie beweeg en een van die brandstofpompe omgestamp. Toe die voertuig tot stilstand kom, het die rower in Engels beveel dat Carol hul selfone, haar handsak en die motorradio moes aangee. Hy het agter in die voertuig geklim en ook ‘n baadjie en drafskoene gevat. Voordat hy laat spat het, het hy hulle beveel om plat te lê.

Ignatius Tharini, die kassier aan diens in die kafee tydens die rooftog, sê daar was drie of vier rowers by die aanval betrokke.

"Hulle het by die deur ingekom terwyl ek verskeie mense binne bedien het. Die een het agter die toonbank ingestap en sy pistool teen my kop gedruk. Die ander het die mense beveel om plat op die vloer te gaan lê. Toe die voertuig met mnr. Venter voor die kafee stilhou, het een geskreeu : ‘Skiet hom, hy gaan vir die polisie sê’. Hy het uitgestorm en na die mense geskiet."

Die eienaar van die vulstasie en kafee, mnr. Even Barnard, het sy spyt uitgespreek oor die voorval en meegevoel betuig met mnr. Venter wat beseer is en die ander kliënte wat betrokke was by die insident. ‘n Deskundige verteenwoordiger van die betrokke brandstofmaatskappy het vandeesweek die perseel besoek om behulpsaam te wees met die opskerping van sekuriteitsmaatreëls en om bykomende veiligheidstrukture in plek te kry.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines