

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 March 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - 'n Hofsaak tussen die Makhado Munisipaliteit en die Louis Trichardt Sosiale Klub, wat ses jaar gesloer het, is uiteindelik verlede Donderdag (11de) geskik.
Volgens die skikkingsooreenkoms moet die munisipaliteit 'n bedrag van R176 000 aan die klub betaal, nie later nie as 25 Maart vanjaar. Die regskostes van beide partye en die kostes van spesialisgetuies en ander getuies is ook vir die rekening van die munisipaliteit. Die berekening van die finale syfer behoort in April beskikbaar te wees.
Die uitgerekte hofsaak het begin in 1998 toe die Raad 'n kontrak met die klub, waarvolgens hulle die klubhuis in Rissikstraat kon gebruik, gekanselleer het. Die klub het 'n klubhuis opgerig in die plek van 'n bestaande ou geboutjie, wat onvoldoende was. Die oprigting van die klubhuis het geskied nadat die klub met die Raad ooreengekom het vir befondsing van die klubhuis op 'n rand-vir-rand basis. Uiteindelik het die Raad rondom R113 000 spandeer en die klub ongeveer R58 000, volgens bewese fakture.
"Die kontrak het gelui dat indien die Raad die kontrak kanselleer, hulle die klub moet vergoed met die waarde van die verbeterings wat deur die klub aangebring is. Die Raad was nie bereid om die vergoeding toe te staan nie en het 'n aanbod van R30 000 aan die klub gemaak, wat nie vir die klub aanvaarbaar was nie. Uiteindelik het die saak drie maal by die hooggeregshof gedraai," sê mnr. Freek van Niekerk, ondervoorsitter van die Louis Trichardt Sosiale Klub.
Die saak is die eerste keer uitgestel op versoek van die klub, omdat die klub se regsadvies gelui het dat die verbeterings op die gebou die waarde van die ou geboutjie moet uitsluit. Die nuwe gebou is toe in April 1998 gewaardeer vir net meer as R260 000.
"In Februarie 2003 is die saak 'n tweede keer na die hooggeregshof en hierdie keer is die saak uitgestel op versoek van die Raad," sê mnr. Van Niekerk.
Daarna het mnre. Vic Viljoen en Dopper Kruger van die Raad en mnre. Freek van Niekerk en Roger de Troch van die sosiale klub, in opdrag van die partye, gepoog om ooreen te kom op 'n skikkingsbedrag wat vir beide partye aanvaarbaar sou wees.
Volgens die bewese fakture is daar bepaal dat die Raad 66.1% van die gebou befonds het en die klub 33.9 %. Bereken op die waarde van R262 508.55 in April 1998, sou die Raad die klub R88 990.40 moes gee sonder rente. Saam met rente teen die statutêre rentekoers van 15.5% sou die bedrag in Maart verlede jaar R157 957.95 gewees het. 'n Jaar later het hierdie bedrag saam met rente gegroei tot ongeveer R176 000.
Die Raad het egter nie die voorgestelde ooreenkoms aanvaar nie. Op 24 Junie, 2003, het die Raad weer die klub R30 000 aangebied, wat weer nie vir hulle aanvaarbaar was nie.
Aanvanklik is vier dae vir die derde verhoor opsy gesit. Na 'n voorverhoorvergadering tussen die twee partye op 10 Maart, is die skikkingsooreenkoms van R176 000 voorgelê in die hof. Die volgende dag is die hofbevel uitgereik.
Mnr. Vic Viljoen, die Raad se Direkteur van Strategiese Ontwikkeling en Ekonomiese Beplanning, het die afgelope week bevestig dat die geld verskuldig aan die klublede, plus die regskostes en die spesialisgetuies se kostes, deur die Raad betaal moet word. In effek beteken dit dat die belastingbetaler daarvoor sal moet betaal.
Op 'n vraag waarom die Raad die saak so lank laat sloer het, het mnr. Viljoen gesê dat dit nie Raad is wat die saak laat sloer het nie.
"Die Raad was nooit onwillig om uit te betaal nie; die twispunt was slegs die bedrag," sê mnr. Viljoen.
Die Munisipale Bestuurder, mnr. Reuben Rambado, het op navraag geweier om enige kommentaar op die saak te lewer.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
