

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 April 2010
Voormalige AWB-leier mnr. Eugène Terre’Blanche se begrafnis het verlede Vrydag moontlik daartoe aanleiding gegee dat ´n jong inwoner van Louis Trichardt ná ´n rassegeskil met messteekwonde in die hospitaal geëindig het.
Boonop beweer die slagoffer dat die plaaslike polisie geweier het om hom te help om ‘n saak van aanranding te open, nadat hy wreed met ‘n mes en sambok aangeval is, kort voor sy een-en-twintigste verjaarsdag. Dié insident het homself afgespeel in die park agter die munisipale biblioteek.
‘n Erg ontstelde mnr. Peet de Beer (21) het vandeesweek vertel hoe hy en sy broer, Harry, gereeld saam met van hul swart vriende kaart speel in die park.
Dié Vrydag het hulle weer kaart gespeel, toe een van die jongmanne, net bekend as Kenny, opruiende opmerkings begin maak het aangaande die dood van mnr. Terre’Blanche. De Beer sê dat die ene Kenny later begin het om die gewraakte “Kill the Boer”-uitsprake van ANC Jeugliga-leier Julius Malema te beaam.
“Hy het gesê Malema is reg en hulle (swartes) moet al die wit boere dood maak,” het De Beer vertel. Hierna het De Beer glo vir Kenny aangespreek en hom gevra om op te hou met sy uitlatings, omdat hy almal net ontstel daarmee.
Kenny het hom blykbaar so vererg, sê De Beer, dat hy ´n gebreekte bierbottel gegryp het en hom (De Beer) daarmee in sy linkersy gesteek het. Vir De Beer was dit die spreekwoordelik "vonk by die kruitvat" en hy het Kenny met ´n stewige paar vuishoue bygedam. In daardie stadium het De Beer hom skielik in die moeilikheid bevind, nadat ´n vriend van Kenny ´n mes uitgepluk het en op hom afgestorm het.
“Ek het gesien hoe hy na my steek en toe met my linkerhand probeer keer,” het De Beer gesê. In die proses is sy hand diep oopgekloof en moes hy later steke ontvang. Buiten vir dié sny, is De Beer ook verskeie ander geringe steek- en snywonde toegedien.
Bebloed en beseer het De Beer saam met sy broer afgesit na die polisiestasie om‘n klag van aanranding teen Kenny en sy vriend te open. Volgens De Beer het die polisie hom net gehelp om by die hospitaal uit te kom, en wou hulle nie sy klag aanvaar nie.
“Die inspekteur aan diens het ons gevra om eerder die volgende dag terug te kom om ‘n klag te lê of hulle te bel as ons hulle (die verdagtes) weer sien.”
De Beer het wel die verdagtes die volgende dag by die taverne oorkant die munisipaliteit gesien en dadelik die polisie ontbied. Terwyl De Beer gewag het op die polisie, het die twee verdagtes hom weer toegetakel, die keer met ´n sambok. Hy is in die gesig, oor sy rug en arms geslaan.
Einde ten laaste het die polisie opgedaag en die twee verdagtes na die aanklagkantoor geneem. By die polisiestasie, vertel De Beer, het die polisie-inspekteur en die verdagte in Venda bly praat en geweier om hom ‘n kans te gee om sy kant van die saak te stel. “Hy het vir my gesê ek het myself met ‘n mes gesny en dat hy nie ‘n saak gaan open nie,” sê De Beer.
De Beer het ten sterkste ontken dan hy homself op so ´n manier kon beseer. Hy het egter agtergekom dat hy nêrens gaan kom met die lê van ´n klag nie, waarop hy die inspekteur versoek het om immers net die verdagtes te waarsku om nie weer naby hom te kom nie.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het intussen bevestig dat daar wel ‘n klagte oor Saterdag se voorval ontvang is, maar dat die “klaer en verdagtes ooreengekom het om nie ‘n saak te open nie.”
Aangaande Vrydag se voorval, het kapt. Sadike die mening uitgespreek dat daar dalk moontlik alkohol betrokke was tydens die voorval, wat die inspekteur sou genoop het om nie dadelik ‘n saak te open nie. “Dit is gebruiklik vir ‘n polisiebeampte om ‘n aangeklamde klaer aan te raai om eerder die volgende dag terug te kom om ‘n saak te open,” het kapt. Sadike verduidelik.
Hy het weereens lede van die publiek daaraan herinner dat die polisie altyd daarna streef om vriendelik en behulpsaam te wees. “As iemand onvriendelik behandel word, moet hy daarop aandring om met die stasiebevelvoerder te praat,” het Sadike gesê.

ADVERTISEMENT:
