ADVERTISEMENT:

 

Laat April-reën sit glimlag op almal se gesigte

 

News  Date: 16 April 2010

 

Welkome reënneerslae wat sover onverwags in April geval het, laat boere se harte juig.

In Levubu het tussen 2 en 8 April ongeveer 250 tot 300mm reën geval.

“Ons is hoogs in ons noppies met die heerlike reën. Die gewasse, soos koejawels, piesangs en avokados sal baie baat vind by die reën. Die jong bome gaan nou mooi groot word. Die ondergrond is lekker nat en ons verwag ‘n gematigde winter en hoop op ‘n vroeë lente,” sê mnr. Dries Joubert van Levubu.

In Louis Trichardt het daar tot 10 April 112mm reën uitgesak. Hierdie syfer is deur mnr. Willie Agenbacht in Malvastraat 26 gemeet. Volgens oom Willie is dit die hoogste reënval vir April die afgelope 15 jaar en April is nog lank nie verby nie. Die gemiddelde reënval vir April vir die vorige 25 jaar was 38mm. In die res van die dorp het dit waarskynlik nog meer gereën.

“Party weer het uit die suide gekom en oorgetrek na die weste en by Malvastraat is net die punt van die weer gevang. Suid en wes van die dorp het dit heelwat meer gereën. Die totale weerpatroon in April is heeltemal anders. Daar is ‘n oostewind en ons kry somertipe reën, met donderweer nou en dan. Te oordeel aan dié patroon, kan ons dalk nog ‘n bietjie kry,” sê oom Willie, maar voeg by dat as jy nie wil jok nie, jy jou mond uit die politiek en die weer moet hou. In Malvastraat is in Januarie 60mm, in Februarie 110mm en in Maart 30mm reën gemeet.

Alldays het ook mooi reën gehad en mnr. Robert Gallon, voorsitter van die Alldays Boerevereniging, berig dat daar tussen 100mm en 152mm geval het.

“Party plekke het dit baie gereën en dit gaan ‘n baie positiewe invloed hê. Daar is tyd vir die gras om te reageer voor die winter,” sê Gallon. Mnr. Hansie Taute sê dat daar 30km wes van Musina 61mm geval het. Dit was op 5 en 6 April.

“Mense het my vertel dat Dongola oor die 70mm gehad het en by Tshipise oor die 100mm. By Linton het mense se reënmeters oorgeloop. Die weiding en bome het mooi herstel en dit sal ons deur die winter dra,” sê Taute. In Mopani skryf die Erasmus-egpaar van Bokmakierie Garage die reën noukeurig op.

“Ons het op 2 April 10mm gehad, op 6 April 33mm en op 7 April 15mm. Dit is ‘n totaal van 58mm en ‘n groot geskenk vir ons! Die boere sê vir ons dat hulle baie tevrede is en dat dit op ‘n goeie tyd gekom het. Daar is baie gras vir die weiding van bees en wild,” sê me. Carol Erasmus. In Mopani het dit in Maart 14mm gereën.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines