

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 April 2010
‘n Eienaardige vonds op die munisipale stortingsterrein sowat ´n week gelede deur ‘n inwoner van Louis Trichardt het heelwat inwoners laat kop krap.
Sowat tien ID-boekies en talle Woolworthskaarte is deur ‘n inwoner (wat nie geïdentifiseer wil word nie) opgetel terwyl hy besig was om tuinvullis weg te gooi.
“’n Man wat in die omgewing rondgestaan het, het gesê ‘n wit man in ‘n bakkie het die goed daar kom weggooi,” het die inwoner vertel.
Sommige boekies was nog in ‘n betreklike goeie toestand en meeste het nog die ou landswapen daarop gehad. Party van die boekies was egter baie verweer en het geen omslae gehad nie.
Nêrens in die boekies was daar egter ‘n aanduiding dat die persone aan wie dit uitgereik is, oorlede is of dat die boekies gekanselleer is nie. Sommige boekies het ook foto´tjies en koerantuitknipsels of Woolworths-koopbewyse ingehad.
Presies hoe die boekies egter op die ashoop beland het, bly ‘n raaisel.
Die Zoutpansberger het Maandag daarin geslaag om twee van die ID-boekies met hulle eienaars te herenig.
Mev. Mitzi Viljoen van Louis Trichardt was uit die veld geslaan, nadat sy gehoor het waar haar ou boekie gevind is. Volgens haar het sy al reeds in 2004/5 aansoek gedoen vir ‘n nuwe ID-boek, nadat sy in ‘n stadium agtergekom het dat sy haar oue verloor het.
"Dit gaan maar mos so, dat jy eendag jou ID soek en dan eers besef dat dit weg is," het Mev. Viljoen vertel.
Sy het dadelik op haar voetspore teruggegaan, maar die ID-boekie was net skoonveld.
Mev. Viljoen onthou wel dat sy ´n rukkie voor haar boekie verdwyn het by Woolworths was om ´n rekening te open en dat sy daar ook aangedoen het in die hoop dat sy moontlik die boekie daar vergeet het. Maar ook daar was die boekie nie.
Nog ‘n inwoner, mev. Petra Schoonbee, was net so verbaas. Sy kan egter nie onthou waar of wanneer sy haar ID-boek verloor het nie. “Mens kan maar net raai waar die boekie al die jare was,” het sy gesê.
Sommige inwoners was egter van mening dat die dokumente dalk vervals was of dat dit gesteelde inhoud van handsakke was wat bloot net weggegooi is.
Derhalwe is die dokumente na die Departement van Binnelandse Sake se plaaslike kantoor geneem en aan mnr. Joseph Ramapulana getoon. Hy het bevestig dat die boekies wel eg is, maar was net so dronkgeslaan toe hy hoor dat die boekies op die vullishoop gevind is. Hy het die mening uitgespreek dat onwettige immigrante dalk die dokumente bekom het om huweliksertifkate te vervals en sodoende Suid-Afrika binne te dring.
“Die vraag bly egter hoekom dit weggegooi is en hoe hulle dit in die eerste plek in die hande gekry het?”
Woolworths is ook genader vir kommentaar. Hulle het nie die moontlikheid uitgesluit dat die boekies per abuis op ‘n manier in hulle vullishouers beland het nie. Hulle het aangedui dat sommige kliënte, wanneer hulle rekeninge open of navrae doen, hulle ID-boekies toon en dan vergeet beide hulle en die personeel soms om dit aan die betrokke persoon terug te besorg. Dit het tot gevolg dat heelwat ID-boeke met verloop van tyd in die winkel ophoop. Die kans dat so ‘n boekie dan per abuis in die vullisdrom beland, is redelik groot.
Mnr. Mynhardt Louw het namens Woolworths gesê dat die saak ondersoek sal word om te bepaal of bogenoemde scenario wel tot gevolg gehad het dat die boekies op die vullishoop beland het.
Die plaaslike polisie is ook genader vir kommentaar. Polisiewoordvoerder AO Daniël Ndlovu het Maandag gesê daar is nie veel wat die polisie omtrent die saak kan doen nie.
“Dit is jammer dat niemand die registrasienommer van die betrokke voertuig neergeskryf het nie,” het hy gesê.
“Op hierdie manier sou ons die persoon wat die ID-boekies weggegooi het, kon opspoor en vasstel of die persoon onwettig in besit was van die dokumente. Indien wel, sou ‘n saak geopen word vir verdere ondersoek," het hy gesê.

ADVERTISEMENT:
