ADVERTISEMENT:

 

Die Suid-Afrikaanse minister van verdediging, me Lindiwe Sisulu, vandeesweek saam met die waarnemende hoof van die lugmag, genl.maj. Lucky Ngema, tydens die minister se eerste besoek aan Lugmagbasis Makhado.

Minister wil met boere praat oor veiligheid

 

News  Date: 23 April 2010

 

Die minister van verdediging, me Lindiwe Sisulu, wil graag die landbougemeenskap in die noorde van Limpopo Provinsie ontmoet om hul veiligheidsbehoeftes met hulle te bepreek.

Minister Sisulu het vandeesweek met haar eerste besoek aan die Lugmagbasis Makhado buite Louis Trichardt gesê met die hernieude ontplooiing van weermaglede langs die noordgrens is dit belangrik om met al die gemeenskappe wat daarby belang het, samesprekings te voer, om van hul besondere behoeftes kennis te neem. Sy het gesê die veiligheid van die landbougemeenskap is van besondere belang en sy is reeds besig met voorbereidings om hulle vir samesprekings te ontmoet.

Die minister het gesê sedert 1994 is die weermag se grondwetlike mandaat om die land se noordgrens te beveilig tydelik aan die polisie gedelegeer. Sedert 1 April vanjaar het die weermag egter weer hierdie verantwoordelikheid oorgeneem en word weermaglede geleidelik langs die grens ontplooi.

Op ‘n vraag oor die gebruik van militêre basisse langs die noordgrens wat tydens die vorige bewind opgerig is op grond waarop daar nou grondeise bestaan, het minister Sisulu gesê waar dit moontlik is, probeer haar departement om alle grond aan die regmatige eienaars terug te besorg. Waar dit nie moontlik is nie, word daar in goeie trou met sulke gemeenskappe onderhandel vir aanvaarbare alternatiewe oplossings.

Ongeag die departement se huidige begrotingsprobleme, is Suid-Afika paraat om sy grense en die lugruim in die omgewing van die stadions tydens die Wêreldbekerbyeenkoms te beveilig. Die paraatheid is onlangs tydens oefenlopies in die Kaap gedemonstreer. Minister Sisulu het daarop gewys dat selfs duikers deur die vloot opgelei word om skepe te help beveilig, wat as moontlike alternatiewe huisvesting tydens die toernooi benut kan word.

Die minister was besonder beïndruk met LMB Makhado, wat sy as een van die heel bestes in die land beskryf het. Tydens haar ontmoeting met die inwoners van Braambos het sy in ligte luim opgemerk dat hulle hulle in ‘n kompleks bevind wat van ‘n aansienlik beter gehalte is as dié waarin die staatspresident woon. Sy is getref deur die gehalte en besondere netheid en deeglike instandhouding van alle geboue en toerusting op die basis.

Minister Sisulu sê een van die redes waarom sy gretig was om dié basis te besoek, is omdat lede van die basis nie deelgeneem het aan die onlangse onwettige staking van militêre personeel nie.

“Ek is dankbaar dat u u waardigheid en dissipline behou het. Dié staking was onwettig en ons sal toesien dat so iets nie weer gebeur nie.”

Sy het aangedui dat ‘n nuwe bedeling buite die staatsdiens geskep moet word, waarin militêre personeel gemaklik kan wees en ongehinderd kan vorder en groei en waarin die belangrike, skaars vaardighede van sy lede vir die land behou kan word, deur toepaslike diensvoorwaardes en vergoeding. Die behoud van dissipline is ononderhandelbaar.

Voordat sy die media te woord gestaan het, het die minister vir meer as ‘n uur aan gewone personeellede die geleentheid gegee om enige probleme waarmee hulle te kampe het persoonlik, regstreeks onder haar aandag te bring. Sy het later, tydens die mediakonferensie, op ‘n vraag aangedui dat die meeste van die probleme van ‘n individuele en persoonlike aard was. Dit was die heel eerste keer dat die personeel die geleentheid gehad het om hul minister te ontmoet en op so ‘n regstreekse, persoonlike grondslag hul menings te lug.

Oor die departement se begrotingsbehoeftes het die minsiter gesê daar is groot leemtes wat gevul moet word.

“Ons moet egter eers op ‘n daaglikse grondslag ons waarde aan die gemeenskap bewys, voordat ons hulle vir ‘n groter begroting kan vra,” het sy gesê.

Oor berigte van veranderinge in die topstruktuur van die departement, het sy gesê sy het besondere waardering vir die bestaande rolspelers se toewyding en kundigheid, wat meegehelp het om bestendigheid te help skep. Enige verandering in die departement sal geleidelik ingefaseer word om die behoud van bestendigheid, ervaring en skaars vaardighede te verseker.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines