

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 April 2010
Een van die vier verdagtes wat daarvan beskuldig word dat hulle ‘n boer van die Vivo-omgewing voor sy gesin vermoor het, is steeds in aanhouding ná sy tweede hofverskyning in die hof op Louis Trichardt.
Die 31-jarige Thabo Phasha Mokgwatswane het op 14 April hier in die hof verskyn. Hy is in Februarie naby Polokwane in hegtenis geneem, op klagte dat hy en drie medepligtiges in Desember verlede jaar die 56-jarige mnr. Pieter Henry Snyman van die plaas Balmoral wreedaardig vermoor het.
Mnr. Snyman se vrou en een dogter is in hul woonhuis oorval, vasgebind en in die badkamer toegesluit, waarna die aanvallers mnr. Snyman oorval het. Mnr. Snyman is met ‘n mes in die bors gesteek, nadat hy ‘n geveg opgesit het teen sy aanvallers.
Luidens polisieverklarings het twee van die vier mans Snyman na die badkamer gesleep en by sy vrou en kind gelos om dood te bloei. Snyman se vrou kon daarin slaag om haar los te wikkel, maar teen die tyd wat sy by haar man kon kom, was hy reeds dood.
Die vier mans het die egpaar se oudste dogter ook oorval en in die badkamer toegesluit, waarna hulle met ‘n plaasvoertuig vol gesteelde goedere gevlug het. Die bakkie is later naby Seshego buite Polokwane verlate gevind.
Mokwatswane het tydens sy arrestasie ‘n geveg opgesit en is twee keer in die been gewond. Hy sal moontlik tydens sy volgende hofverskyning op 22 April ´n borgaansoek bring.
Volgens die polisie behoort nog arrestasies in die saak binnekort te volg.

ADVERTISEMENT:
