

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 April 2010
Die welkome reën die afgelope naweek is met groot dankbaarheid ontvang, ten spyte van die skade wat dit voorafgegaan het. ‘n Hewige windstorm met gepaardgaande reën en hael het Dinsdagaand (20ste) om ongeveer 22:00 deur Louis Trichardt gewoed.
Talle bome se takke is afgeruk en in sommige gevalle is party bome heeltemal uit die grond geruk, wat tot gevolg gehad het dat verkeer in sommige strate tydelik versper is. Sommige inwoners moes eers takke en bome verwyder, voordat hulle werk toe kon gaan. In sommige gevalle moes mense eers afgewaaide takke van hul motors afhaal. By die saal van die Bergwaterhotel het die stormwind ‘n gedeelte van die dak oopgeruk.
Een ontwortelde boom het duisende rande se skade by die Malan se woning in Kleynhansstraat aangerig. Dié boom, wat langs hul woonhuis gestaan het, se boonste takke is tydens die storm afgeruk, waarna feitlik die hele voorkant van die huis onder takke verberg was. Mev. Lee Malan het by ‘n kamervenster ‘n ou palmboom in die tuin dopgehou wat woes deur die wind rondgepluk is, toe daar meteens ‘n oorverdowende knal deur die huis weergalm het.
“Ek het eers gedink ons is deur weerlig getref,” het sy vertel.
Dit was egter die boonste takke van die boom wat op die huis se dak geval het en die hele voorkant van die huis verskans het. Die tak het ook twee enorme gate deur die plafon geslaan.
Lee vertel dat al wat deur haar gedagtes gegaan het was “Dankie tog dit het opgehou reën.”
Die storm het net sowat ‘n halfuur geduur voordat dit verbygetrek het. ‘n Kort, drukkende stilte het gevolg, voordat die volgende reënbui egter begin uitsak het.
“Alles was doodstil toe die storm oorgewaai het, maar toe begin dit weer te reën.”
Dit het ‘n geskarrel in die donker afgegee om al die meubels betyds uit die pad te skuif en te keer dat die water wat by die oopgerukte dak inreën, verder die gang af en in die huis inloop.
Gelukkig is die skade aan die huisraad beperk gewees, omdat Lee nog wag vir van haar huisraad wat vanaf Kaapstad na Louis Trichardt getrek moet word. Die huis het egter nie so lig daarvan afgekom nie.
“Tydens die storm het die voorste glasdeur oopgeswaai, wat ons laat dink dat die mure van die huis begin sak het,” het Lee gesê. Die muur is ook op party plekke lelik gekraak, ná die storm.
Intussen is groot dele van die dorp verlede Woensdag sonder krag gelaat, nadat ‘n sinkdak by Desai Cash & Carry in die industriële gebied afgewaai en hoogspanningslyne getref het. Kragonderbrekings het twee dae na die storm steeds sekere dele van die dorp geaffekteer.
Die Makhado Munisipaliteit se direkteur van tegniese dienste, mnr. Thivho Ralulimi, het die skade van die fratsstorm op sowat R700 000 beraam.

ADVERTISEMENT:
