ADVERTISEMENT:

 

‘n Inwoner van Kameelstraat op Louis Trichardt, mnr. Henk Vermaak, het besluit dat die slaggate voor sy huis nie so kan bly nie en versoek hy ‘n paar sakkies teer van die munisipaliteit sodat hy self die gate kan regmaak.

"Gee my die teer, dan maak ek self die slaggate reg"

 

News  Date: 30 April 2010

 

Daar is ook ‘n ligter kant aan slaggate.  “Ten minste jaag onverantwoordelike motoriste nie meer soos altyd in hierdie deel van die straat nie,” sê ‘n inwoner van Kameelstraat.

Tog het die eienaar van Kameelstraat 56 besluit dat dié gate voor die ingang na sy hek nie so kon bly nie.

“Sê vir die munisipaliteit as hulle my drie of vier sakkies teer gee, sal ek dit self regmaak,” sê mnr. Henk Vermaak, altyd gereed om verantwoordelikheid op te neem en sy kant te bring om die dorp te verbeter. In die verlede het hy van die gate met sement reggemaak, maar dit het mettertyd weer uitgebreek.

‘n Ander huiseienaar,  ook in Kameelstraat, me. Suzette Reed, sê dat hulle op ‘n gereelde basis die gate voor hulle ingang met sement of gruis of grond toegooi.

“Ek glo dat ons as gemeenskap meer verantwoordelikheid kan neem. As almal net die paar gaatjies voor hulle plek kan toemaak, kan dit al baie help,” sê Reed.

Die onlangse probleem met vuilisverwydering gedurende die munisipale staking het me. Reed ook laat nadink oor verantwoordelikheid. Baie huiseienaars het self verantwoordelikheid vir hul vullis geneem en dit nie in die strate laat rondlê nie.

“Ek voel net dat meer besighede verantwoordelikheid kon neem om op te ruim, sodat hul kliënte nie deur die vullis moes trap nie. Jy kan miskien nie ‘n maatskappy betaal om ´n pad te teer nie, maar jy kan vullis optel. Kom ons begin by die klein goedjies,” sê Reed.

Wat sê die munisipaliteit van die idee om ‘n paar sakkies teer te verskaf sodat Vermaak die pad voor sy huis kan regmaak?

Ongelukkig kan dit nie gebeur nie, sê die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi. “Ons waardeer die gebaar en ons beklemtoon dat die munisipaliteit en regering aan almal behoort, maar ons moet sekere funksies op sekere maniere uitvoer. Ons kan nie ‘n presedent skep deur materiaal aan inwoners te gee nie,” het Bobodi Maandag gesê.

Bobodi het bevestig dat die R16 miljoen vir die verbetering van die dorp se paaie opgebruik was. Hy het gesê dat hy in ‘n later stadium die nuwe konsepbegroting vir paaie in Louis Trichardt sal deurgee.

Dit kos R500 per vierkante meter om ‘n slaggat te herstel. Om ‘n nuwe padoppervlakte aan te bring, kos tot R1 miljoen per kilometer, afhangende van die oppervlakte wat gebruik word. Warm asfalt word beskou as die beste oppervlakte. Om die bestaande oppervlakte te verwyder en die beskadigde basislaag oor te bou, kos tussen R1.2 miljoen en R2 miljoen per kilometer. Hoe gouer die verantwoordelikheid opgeneem word en die pad herstel word, hoe groter dus die besparing.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines