ADVERTISEMENT:

 

Die 19-jarige Tiana van Wyk (links) en Karina Viljoen (27) betree die beskuldigdebank tydens hulle hofverskyning verlede Vrydag in die landdroshof op Louis Trichardt.

Eksotiese dansers onskuldig - slegte nuus vir broers

 

News  Date: 07 May 2010

 

Die twee jong eksotiese dansers van Polokwane wat daarvan aangekla is dat hulle ‘n boer van die Waterpoort-omgewing se bakkie sonder sy toestemming gebruik het, is verlede week onskuldig bevind in die hof op Louis Trichardt.

Tiana van Wyk (19) en Karina Viljoen (27) was verlede Vrydag merkbaar verlig, nadat hulle onskuldig bevind is op ‘n klag van die die gebruik van ‘n motorvoertuig sonder toestemming. Hulle het ook tereggestaan op ´n klag van die bestuur van ‘n voertuig sonder ‘n lisensie, maar hierdie klag is egter deur die hof ontslaan.

Alhoewel dit goeie nuus was vir Van Wyk en Viljoen, het die uitslag as ´n terugslag gekom vir die twee boer broers, Pieter (33) en Martin Pretorius (31), van die plaas Honeymoon Farms.

Pieter het die klagte teen die twee dansers gelê, nadat hulle volgens hom sy bakkie gesteel het in ‘n beweerde poging om van die plaas te vlug. Dit het gevolg nadat Karina na bewering deur Martin aangerand is. In hul poging om weg te kom van die plaas, het Karina die bakkie waarin sy en Tiana gereis het, gerol. Die skade aan die bakkie het ongeveer R300 000 beloop.

Van Wyk en Viljoen se prokureurs het tydens die vroue  se verhoor aangevoer dat die twee broers gelieg het oor die gebeure van die aand van 28  Augustus verlede jaar,  vir die doeleindes van die versekeringseis op die bakkie.

Van Wyk het tydens haar hofverskyning aangevoer dat Pieter haar al vantevore genader het en dat hy haar weer kom sien het vir sy broer (wat intussen getroud is) se  rampartytjie. Pieter was glo bewus daarvan dat Van Wyk ‘n prostituut was en het haar juis gehuur om saam met van die gaste op die partytjie te slaap.

Nadat die meisies op die plaas aangekom het, is Van Wyk eers op Pieter se instruksies langs die pad in die bosse afgelaai, sodat hulle gemeenskap kon  hê. Hierna is sy weer opgelaai en moes sy en Viljoen bostukloos drankies vir die meer as 20 mans wat die partytjie bygewoon het, bedien op ‘n spesiaal-ingerigte sleepwa. Die meisies het ook vyf kostuums gehad waarin hulle moes dans vir die gaste.

Nadat Pieter en van die ander gaste al gaan slaap het, het Van Wyk, Viljoen en Fourie saam met Martin teruggegaan na sy plaas om verder te kuier.

Van Wyk het vertel dat hulle reguit slaapkamer toe is, waar hulle nog gesels het. Van Wyk sou ook glo saam met Martin moes slaap.

Viljoen het egter gesê dat sy nog met Van Wyk gesels het, toe Martin hom bloediglik vererg het en van die bed afgepring het. Hy het glo haar bottel drank uit haar hand gestamp, haar gevloek en teen die vloer neergegooi. Martin het egter getuig dat hy moeg was en net wou gaan slaap. Hy het gesê dat hy die meisies gevra het om die ligte af te skakel en rustig te raak en dat hy hulle nooit aangerand het nie.

Van Wyk het egter emosioneel geraak toe sy vertel het hoe sy moes toekyk dat Martin op Viljoen skreeu en haar stamp. Sy het Jannie Fourie, wat in die ander slaapkamerdeur gestaan het, om hulp gesmeek, maar hy het glo geweier omdat Viljoen hom ‘n “weirdo” genoem het en geweier het om saam met hom te slaap.

Hierna het sy Martin na bewering huilend gesmeek om hulle terug te vat na hulle chalet. Hy het volgens die vrouens geweier en die bakkie se sleutels in Van Wyk se gesig gegooi en gesê dat as sy dan wil “f*#off dan moet sy f*#off.”

Die meisies het toe die bakkie gevat in ´n poging om terug te kom op Pieter se plaas, waar hulle hul selfone gelos het. Hulle het egter verdwaal en in die proses beheer oor die bakkie verloor, waarna dit gerol het.

Bloeiend en beseer het hulle toe tot by ‘n informele nedersetting gestap, waar hulle ‘n polisieman voorgekeer het en hom versoek het om hulle na die polisiestasie te neem.

Pieter het ook later by die polisiestasie opgedaag om ‘n klag te lê, nadat Martin hom wakker gemaak het en vertel het dat die meisies die bakkie gesteel het.

Albei meisies is per ambulans na ‘n hospitaal vervoer vir verdere mediese behandeling. Van Wyk moes ná die voorval drie weke lank ‘n nekstut dra en sielkundige behandeling ontvang. Viljoen het ook ‘n klag van aanranding teen Martin ingedien.

Landdros Bennie Smit het tydens sy uitspraak toegegee dat albei partye hul getuienis kon aandik om mekaar te beskerm. Die hof was egter tevrede met die meisies se getuienis en het bevind dat daar wel ‘n noodtoestand bestaan het.

“Die meisies het nie die toestand geskep nie en het nie wederregtelik opgetree toe hulle die bakkie gevat het nie,” het Smit gesê.

Pieter het Maandag in ´n telefoniese onderhoud al die meisies se aantygings as  “blote onsin” afgemaak. Van Wyk se aantygings dat hy saam met haar sou geslaap het, het hy ook as “bog” afgemaak.

Pieter het op sy beurt aangevoer dat die meisies daardie aand nie net onder die invloed van drank was nie, maar ook dwelms.

"Hulle wou die bakkie steel," het hy gesê.

Intussen het Viljoen se prokureur aangedui dat hulle voortgaan met hul klag van aanranding teen Martin. Hy het ook aangedui dat hy namens Viljoen ´n klag van onregmatige vervolging teen die broers gaan indien.

Van Wyk het sedert die voorval die "professie" verlaat en is tans in ´n vaste verhouding. Sy en haar lewensmaat verwag hulle eerste kind.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines