

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 May 2010
Vriend of vyand? Met reg kan inwoners hulself dit afvra, na die hofverskyning van nog twee polisiemanne op onder andere ´n klag van gewapende roof op Louis Trichardt.
Op 14 April verskyn ‘n adjudant-offisier van die Waterval SAPD in die hof op Louis Trichardt op klagte van huisroof met verswarende omstandighede. AO John Mbazima Hlungwane word saam met drie ander verdagtes, Jerry Malulelela, Ester Manenge en Agnes Manentshe, daarvan aangekla dat hulle op 30 Maart verantwoordelik was vir ‘n roof by ‘n woning in Eltivillas. Hlungwane se voertuig is na bewering tydens die roof as ontsnappingsvoertuig gebruik. Hlungwane en Malulelela kry elk R10 000 borg en Manenge en Manentshe elk R5 000. Slegs Hlungwane kon in daardie stadium sy borg betaal.
Op Woensdag, 28 April, het nog ‘n adjudant-offisier en ‘n konstabel, dié keer van die SAPD Makhado, in die hof hier verskyn.
AO Freddy Mashudu Makananise (47) en konst. Aubrey Tabashe (28) het saam met twee mede-aangeklaagdes, Gilbert Tshamano Mudau (40) en Vusi Regionald Mothibela (24), verskyn op klagte van gewapende roof by M Premjee & Son op 17 April. Al vier word ook van menseroof aangekla.
Volgens provinsiale polisiewoordvoerder kol. Ronel Otto, het die mans na bewering dié betrokke dag drie sekuriteitsbeamptes op die sakeperseel oorrompel en vasgebind. Daarna is die wagte in ‘n silwerkleurige Jeep geboender.
Een van die verdagtes het ‘n polisiebaadjie aangehad, met twee wat na bewering geklee was in uniforms van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW).
Honderde duisende rande se rekenaars is tydens die roof gebuit. Die winkelkluis is ook oopgebreek en ‘n groot bedrag kontant is gesteel.
Mudau, Tabashe en Makananise is kort ná die voorval in hegtenis geneem, nadat beeldmateriaal hulle na bewering in die omgewing van die misdaadtoneel geplaas het.
Die drie het op 27 April ‘n borgaansoek gebring, maar die saak is uitgestel. Al drie het weer Dinsdag in die hof verskyn, nadat Mothibela op 26 April aangekeer is en vanaf Mamelodi na Louis Trichardt gebring moes word.
Makananise, Mudau en Tebashe se borg is vasgestel op R25 000 elk. Mothibela sal na verwagting tydens sy volgende hofverskyning op 21 Junie sy borgaansoek bring.
In ‘n dramatiese nadraai is Makananise en Tebashe kort nadat hulle borg gekry het, weer buite die hof gearresteer op klagte van voertuigdiefstal.
Dit volg nadat ene mnr. Dennis Derrick Zulu op 29 April in die plaaslike hof verskyn het op ‘n diefstalklag. Zulu het tydens sy hofverskyning getuig dat Makananise sy voertuig by hom gekoop het, maar nooit daarvoor betaal het nie. Hy het probeer om ‘n klag teen Makananise te lê, waarna Makananise hom sonder meer gearresteer het en beslag gelê het op sy skootrekenaar, omdat dit glo gesteel sou gewees het.
Makananise en Tebashe moes teen druktyd nog hul borgaansoek bring in die voertuigdiefstalklag. Beide is geskors sonder betaling. Hul volgende hofverskyning, saam met hul mede-aangeklaagdes in die roofsaak, is weer op 21 Junie.
Die polisie het aangedui dat genoemde sake verder ondersoek word en dat nog arrestasies moontlik sal volg.

ADVERTISEMENT:
