ADVERTISEMENT:

 

Naamstryd nog ver van klaar

 

News  Date: 14 May 2010

 

Vir ‘n tweede keer lê daar ‘n aanbeveling om die naam van die dorp Louis Trichardt na Makhado te verander in die kantoor van die Minister van Kuns en Kultuur. 

Volgens radioberigte verlede week het die Suid-Afrikaanse Geografiese Naamsraad, na ‘n vergadering op Kimberley, hul tevredenheid uitgespreek dat al die nodige prosedures hierdie keer gevolg is. Advokaat Tommy Ntsewa, voorsitter van die raad, het gesê dat die finale besluit nou by die minister berus. 

Die prosesse is egter as oneerbaar, polities gedrewe en ‘n groot skande vir Suid-Afrika bestempel deur die Voorsittersvereniging (VV). Die appèlhof het in Maart 2007 die VV gelyk gegee en uitspraak gelewer dat die naamsverandering na Makhado tersyde gestel moes word.

“Ons kan nie glo dat die SAGNR ‘n aanbeveling kan maak dat die naam moet verander nie, ten spyte daarvan dat ons geldige besware nie uit die weg geruim is nie en daar glad nie met ons gekonsulteer is oor die naamsverandering nie. Die raad het ‘n premature besluit geneem om die naamsverandering aan te beveel,” het mnr. André Naudé, voorsitter van die VV, gesê.

Buiten die besware teen die prosesse wat die Makhado Munisipaliteit gevolg het voordat hulle die naam Makhado aanbeveel het, het die VV besware aangeteken teen die prosesse van die provinsiale naamskomitee en die nasionale naamsraad. Dié rade het tot op datum geen notules van vergaderings, besluite of aanbevelings beskikbaar gestel nie. Die VV het ook geëis dat sekere lede van die raad moet onttrek, omdat hulle bevooroordeeld was. Die VV het onder andere verwys na adv. Ntsewa se beëdigde verklaring by die appèlhof waarin hy gesê het dat konsultasie vir die verandering van die dorp se naam nie nodig is nie. 

“Daar was geen openhartige en deursigtige doelwit by die SAGNR gewees om ‘n konsensussoekende proses te volg nie. Die proses was polities gedrewe om minderhede te polariseer, te marginaliseer en etnisiteit aan te vuur, terwyl die proses inderdaad moes gewees het om versoening tussen alle kultuurgroepe te bewerkstellig,” het Naudé gesê.

Naudé sê dat sy eerste reaksie met die aanhoor van die radioberig was dat hy al sy respek verloor het vir raadslede wat op forums dien en hulle nie hou by eerbare prosesse nie.

Die VV is egter oortuig daarvan dat hulle weer suksesvol in die hof gaan wees.

“Hierdie proses was so blatant oneerbaar gevolg, dat geen hof so ‘n proses kan sanksioneer nie. Hierdie proses wys hoe ver politici sal gaan om hulself te laat geld ten koste van ‘n vredeliewende burgerlike samelewing.”

Intussen het die koukusleier van die DA in die Provinsiale Wetgewer, mnr. Jacques Smalle, gesê dat die kwessie met die minister opgeneem gaan word.

“Die naamsraad het geweier om die Voorsittersvereniging se navrae te beantwoord. Die Demokratiese Alliansie gaan daardie vrae op nasionale vlak indien vir minister Lulama Xingwana se beantwoording,” het Smalle gesê.

Die VV gaan dadelik ‘n beswaar by die minister indien en as die naamsverandering in die staatskoerant gepubliseer word, sal die VV weer beswaar aanteken binne die voorgeskrewe 30 dae. Daarna moet die reg sy gang gaan.

“Die VV glo vas in die integriteit van die howe en dat almal in die hof gelyk is, ongeag die kulturele groep waarvandaan jy kom,” het Naudé gesê.

Op die voorgeskrewe vorm waarop aansoeke vir naamsverandering ingedien moet word, word daar by vraag 007 gevra  wat die vorige naam was en wat die redes vir die voorgestelde naamsverandering is. Tot op datum wag die VV op ‘n antwoord op hul mees basiese navraag, naamlik wat die rede is?

“Hoekom verander jy ‘n naam sonder rede? Gee net vir ons die rede. Hulle konsulteer ook nie oor die rede nie,” het Naudé gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines