

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 May 2010
Die 25-jarige Lesley Manganye, die man wat daarvan beskuldig word dat hy in 2006 ‘n skrikbewind in Louis Trichardt gevoer het, se verhoor het uiteindelik Maandag in die hof op Louis Trichardt ‘n aanvang geneem.
Manganye word ondermeer daarvan beskuldig dat hy ‘n bekende sakeman van Louis Trichardt, mnr. Ben Fisser, op 9 April 2006 koelbloedig in sy huis doodgeskiet het. Buiten vir die moord op mnr. Fisser, staar Manganye ‘n verdere 54 aanklagte in die gesig.
Manganye is die oggend van 28 Julie 2006 by die minibus-staanplek in Burgerstraat aangekeer, danksy knap speur- en opvolgwerk deur drie lede van die polisie se plaaslike misdaadvoorkomingseenheid.
Ná Manganye se aankeer het die misdaadvlaag in Louis Trichardt skielik afgeneem. Die pistool wat hy na bewering in sy terreurveldtog gebruik het, is ook gevind. Die pistool is aan die einde Maart 2006 by ‘n woning in Van Warmelostraat gesteel.
Manganye is onder meer positief verbind met die huisbraak, poging tot roof en poging tot moord op mev. Rita Swart op 5 April 2006, die huisbraak en poging tot roof by dr. Dirk Jacobs op 10 April 2006, die gewapende roof van mnr. Leon Furstenburg op 13 April 2006 en twee klagte van poging tot moord en een van poging tot gewapende roof op die Van den Berg-egpaar op 18 April 2006. Genoemde misdade is almal in Louis Trichardt gepleeg.
´n Hooggeregshofdatum vir Manganye se verhoor is na bykans drie jaar van aanhouding uiteindelik verlede jaar vasgestel. Tydens sy hofverskyning in November 2009 is sy saak egter weereens uitgestel, sodat ‘n addisionele 11 klagte by sy klagstaat gevoeg kon word. Dié klagte is egter nie bygevoeg nie, omdat al die getuies nie opgespoor kon word nie.
´n Netjies-geklede Manganye het Maandag kalm geluister na die getuienis wat teen hom gelewer is. Sy prokureur het tydens die kruisondervraging aangedui dat hy (Manganye) nie betrokke was by die voorvalle nie en ten tye van die huisbrake deurentyd by sy huis was.
Manganye se verhoor sal duur tot Vrydag. Hy is steeds in aanhouding.

ADVERTISEMENT:
