

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 May 2010
“Ek het van die begin af nie gewerk om erkenning van mense te kry nie, maar om te hoor dat die Here sê:Mooi so goeie en getroue dienskneg. Wat help al die erkenning van mense as die Ewige Regter vir jou sê: Ek ken jou nie?”
So het professor Koos van Rooy van Louis Trichardt gereageer nadat hy op 78-jarige ouderdom ‘n eredoktorsgraad van die Noordwes Universiteit se Potchefstroom kampus ontvang het. Dit is slegs die tweede eredoktorsgraad wat deur die Teologiese Skool Potchefstroom in 60 jaar toegeken is. Die vorige eredoktorsgraad is aan Totius (1877-1953) toegeken. Totius is die skrywersnaam vir prof. JD du Toit, Afrikaanse Bybelvertaler, digter en psalmdigter.
Prof. Van Rooy het al meegewerk aan die vertaling van die Bybel in 18 tale in Afrika. Hy ontvang die graad Philosophiae Doctor (Honoris Causa) op 14 Mei op grond van sy groot werk as Bybelvertaler in Suid-Afrika en Afrika, vir sy vernuwende denke as teoloog en sy bydrae tot Missiologie.
Buiten die eredoktorsgraad, het prof. Van Rooy reeds vyf grade behaal, waaronder twee teologiese doktorsgrade, een in Sendingwetenskap (1971) en een in Ou Testament (1995). Al vyf grade is toegeken deur die Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.
Nadat prof. Van Rooy sy predikantsopleiding voltooi het, word hy in 1957 sendeling in Venda en werk in Siloam tot 1963. Na drie jaar in Johannesburg, keer hy terug na Venda as sendeling met die oog op die vestiging van die Iyani Bybelskool in Sibasa.
Vanaf 1975 is hy hoogleraar in Ou Testamentiese vakke aan die Hammanskraalse Teologiese Skool, totdat die skool in 1995 saamsmelt met die Teologiese Skool Potchefstroom, waar hy ook professor in Sendingwetenskap was.
Prof. Van Rooy se uitstekende kennis van Tshivenda het destyds daartoe gelei dat hy versoek is om die leiding te neem met ‘n nuwe vertaling van die Bybel in Tshivenda. Hy het dit duidelik gestel dat die vertaling van die Bybel getrou moet bly aan die oorspronklike Grieks en Hebreeus én dat dit in ‘n verstaanbare, idiomatiese taal vertaal moet word. Die Nuwe Testament en Psalms het in 1989 verskyn en die volledige Tshivenda Bybel in 1998. Dit was ook die jaar van prof. Van Rooy se aftrede by die Teologiese Skool.
Aftrede in die gewone sin van die woord was dit egter glad nie. Sy werk as Bybelvertaler, konsultant vir raadgewing en beplanning van Bybelvertalingsprojekte, die opleiding van inheemse Bybelvertaler-konsultante het vlerke gekry en hom geneem na verskeie Afrikalande, tot sover as Etiopië, waar hy aan 12 vertalingsprojekte gewerk het. In Mosambiek het hy ‘n besondere bydrae in Bybelvertaling in verskeie tale gelewer, asook in Zambië en die Kongo. Prof Van Rooy het saam met instansies soos die Summer Institute for Linguistics en die Wycliffe Bible Translators gewerk.
Sedert 2008 is prof. Van Rooy koördineerder vir die Bybelgenootskap van Suid-Afrika van die nuwe vertaling van die Ou Testament in Zoeloe. As hy oor hierdie projek praat, dan kom die borreling in sy stem.
“Die Here het die beste uit 10 miljoen Zoeloes vir ons uit die hemel laat val. Hulle is sulke begaafde vertalers en werk met ‘n dringendheid en toewyding en ‘n positiewe gesindheid. Almal wat die vertaling lees is opgewonde. Dit is seker die mees bevredigende werk van my lewe, en dit sê baie,” sê prof. Koos.
Daar is ook baie humoristiese oomblikke. So sê Spreuke 27 vers 15 “die gedrup op ‘n dak wat lek op ‘n reëndag, so is ‘n vrou wat aanhou kyf.” Die Zoeloes, wat baie lief is vir idiome, het egter ‘n positiewe assosiasie met reëndruppels wat op ‘n dak val. Hulle het die vers vertaal ‘n “Bakleierige vrou is soos ‘n kakkerlak in jou ore”. Prof. Van Rooy sê dat die werk saam met die Zoeloe-vertalers ‘n vreugde is.
“Hulle lewer geweldige goeie werk. Teen die huidige tempo behoort die werk binne vyf jaar voltooi te wees.”
Prof. Koos en sy eggenote, Regina, kom een maal in twee maande vir ‘n week of twee huis toe en is die meeste van die tyd in Durban. ‘Huis’ is die plaas Sederkrans op die Witvlagpad buite Louis Trichardt. Die Van Rooys het twee seuns en twee dogters en 11 kleinkinders.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
