

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 November 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Inwoners van Eenheid N-padkamp het die hele Dinsdag sonder krag gesit, al het hulle voorafbetaalde elektrisiteitsmeters.
Makhado Munisipaliteit het die krag van die hele Eenheid N afgeskakel, omdat die Departement van Openbare Werke nie hul rekening betaal het nie. Daar is sestig woonhuise in Eenheid N, wat aan die westekant van die dorp, skuins oorkant die begraafplaas geleë is. Al 60 huise is sowat 'n jaar gelede toegerus met voorafbetaalde elektrisiteitsmeters.
Een van die ontstelde inwoners, mnr. Danie van Tonder, het gesê dat hy wil weet waarom sy krag afgesit word as hy dan self vir sy krag betaal. Sy vrou, mev. Marie van Tonder, het ook reeds hul rekening vir die heffings vir vullis, water en riool betaal.
In sy rondbel poging, het mnr. Van Tonder ontstellende gegewens gehoor, soos dat die Departement Openbare Werke nie hul rekenings betaal nie en die munisipaliteit reeds twee miljoen rand skuld. In sy gesprek met me. Girlie Thameli van Departement Openbare Werke, het sy beweer dat sy reeds die rekening betaal het.
"Steeds kan ek nie verstaan waarom ons moet swaarkry omdat die 'TPA' nie hul rekening betaal nie," het mnr. Van Tonder gevra. Hy sê dat die padkamp se krag ook op 11 November om dieselfde rede afgeskakel was.
Op Dinsdag (25ste) wou mnr. Reuben Rambado, Munisipale Bestuurder nie kommentaar lewer nie. Makhado Munisipaliteit se Assistent Bestuurder: Finansies, mnr. M. Ramavhoya, het gesê dat die padkamp die eiendom van die Departement Openbare Werke is, asook dat die munisipaliteit elektrisiteit in grootmaat aan hulle lewer en dat hulle hooftoevoer nie betaal is nie. Die munisipaliteit lewer 'n gekonsolideerde rekening aan die departement. Ingevolge die huurooreenkoms word die krag afgesny indien die departement se heffingsrekenings nie betaal is nie.
Mnr. Ramavhoya wou nie sê hoe groot die uitstaande rekening is nie. Hy het gesê dat daardie inligting by me. Thameli bekom kan word, wat op haar beurt slegs die telefoon neergegooi het.
Teen 16:45 Dinsdagmiddag is die padkamp se krag weer aangeskakel. Op Woensdag (26ste) het mnr. Reuben Rambado gesê dat die padkamp se krag weer aangeskakel is in terme van 'n reëling met die Departement Openbare Werke.
"Dit is nie aangeskakel as gevolg van die druk van julle koerant nie, maar omdat hulle belowe het om vandag te betaal," het mnr. Rambado gesê. Op 'n vraag wat hy gaan doen as hulle nie betaal soos belowe nie, het hy gesê dat hy daardie bruggie sal oorsteek as hy daarby kom.

ADVERTISEMENT:
