ADVERTISEMENT:

 

Reën, reën en nogmaals reën ...

 

News  Date: 12 March 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Uiterse goeie reënneerslae die afgelope twee weke het die Albasinidam se vlak 'n hupstoot van 12,8% gegee.

Die vlak van die Albasinidam was op 9 Maart 55,8%, in teenstelling met die vlak van 43% verlede Dinsdag.

Op Levubu het sommige boere van Woensdag (3de) tot Sondag (7de) 370mm gemeet. Talle strome, asook riviere soos die Levubu– en Lotonyandarivier, loop sterk.

"Dit is 'n pure vreugde. Die ondergrondse water is pragtig aangevul en ons sien uit na die volgende seisoen," sê mnr. Dries Joubert, voorsitter van die Soutpansberg Distrik Landbou-unie en boer op Levubu.

Volgens die kantoor van die Suid-Afrikaanse Weerburo in Polokwane is daar tussen 3 en 8 Maart by die Levubu proefplaas onderskeidelik 1,3mm, 16,5mm, 88,7mm, 22,0mm, 22,0mm en 20,8mm reën oor die tydperk gemeet.

Agter die berg het die reën ook groot verligting gebring. Mnr. Gideon Meiring, ondervoorsitter van die Soutpansberg Distrik Landbou-unie en boer op Mopani, sê dat hulle vanaf begin Maart ongeveer 100mm reën gemeet het. Mnr. Meiring sê dat die reënval in die streek baie gewissel het; op party plekke 60mm, tot ongeveer 200mm na Vivo se kant toe.

"Die Sandrivier loop weer vir die eerste keer na die vloede. Wildwering het weggespoel toe die Sand- en Brakriviere afgekom het, maar daar is baie blare en die gras is pragtig," sê mnr Meiring.

Weerstasies by Waterpoort, Pontdrift en Tshipise het onderskeidelik 39,1mm, 27,8mm en 7,6mm vir die eerste agt dae van Maart gerapporteer. By Mara is 34mm en by Soekmekaar 175,5 mm reën oor dieselfde tydperk gemeet.

Op Louis Trichardt is 17,1mm, 4,2mm, 5,6mm, 44,6mm en 100,5mm vir elk van die eerste vyf dae van Maart aangeteken, met 'n opgegaarde lesing van 55,4mm vir 6, 7 en 8 Maart. Dit bring die totaal vir Maart sover op 228mm te staan.

Die vraag in inwoners se gemoed oor wanneer die waterbeperkings opgehef sal word, sal maar nog 'n bietjie moet wag vir 'n antwoord. Die munisipale bestuurder, mnr. Reuben Rambado, het Woensdag gesê dat hy nie nou kan spekuleer oor wanneer die beperkings opgehef sal word nie, aangesien hy eers volgende week met die relevante gesaghebbendes wil konsulteer.

Volgens 'n woordvoerder van die Makhado Munisipaliteit was daar reënskade aan paaie in die nuwe uitbreiding, die hoofpad na Tshikota, die Eltivillas taxistaanplek en geringer skade in die ouer residensiële gebied. Erger skade is by Elim, Vleifontein en Nzhelele gerapporteer. Die Nzhelelepad is weens verspoeling gesluit. By Tshakuma moes die pad gedeeltelik gesluit word na 'n modderstorting die afgelope naweek. Die munisipale woordvoerder sê dat talle brûe beskadig is, maar het nog nie 'n beraming van die skade nie. Die Murangoni- en Tshiulungoma-brûe naby Thohoyandou is verspoel, asook brûe in die Malamulele omgewing.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines