

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 May 2010
Ná bykans vier jaar kan die slagoffers van Lesley Manganye se terreurveldtog uiteindelik aangaan met hul lewens, nadat hy verlede Donderdag in sy Hooggeregshofsaak op Louis Trichardt tot 256 jaar gevangenisstraf gevonnis is. Die 25-jarige Manganye het emosieloos gestaan en luister na Regter Roger Claassen se uitspraak. Hy is skuldig bevind op 24 van die 27 klagte teen hom, insluitend die moord op mnr. Ben Fisser en van poging tot moord op Petro en André van den Berg van Louis Trichardt. Manganye se finale verhoor het op 17 Mei, na bykans vier jaar, uiteindelik ‘n aanvang geneem. Altesaam 19 getuies het vir die Staat teen Manganye getuig. Tydens sy verhoor het dit aan die lig gekom dat Manganye sy gewelddadige terreurveldtog op Louis Trichardt begin het, kort nadat hy in Junie 2005 op parool vrygelaat is. Hy het tot in daardie stadium slegs ´n klein gedeelte van ´n vyf-jaar vonnis vir motordiefstal uitgedien. Manganye het al meer gewaagd geraak in sy misdade, veral nadat hy by ´n woning in Van Warmelostraat ingebreek het en ´n pistool gesteel het. Hy het in April 2006 eerste by mev. Rita Swart in Krugerstraat ingebreek en haar met die pistool aangehou terwyl hy aangedring het op kontant. “Ek het hom dadelik herken as die man wat my probeer beroof het,” het Swart ná haar hofverskyning vertel. Manganye het geskrik toe hy besef dat Swart hulp ontbied het en het drie keer die sneller van die pistool getrek in ´n poging om Swart dood te skiet. Wonderbaarlik het die pistool telkens geweier om af te gaan. Ná Manganye uiteindelik aangekeer is, moes Swart hom tydens ´n uitkenningsparade identifiseer. “Die uitkenningsparade was vir my die ergste gewees," het Swart gesê. Sy is verlig dat die saak nou eindelik afgehandel is. “Dit is ‘n regverdige straf wat hy verdien, alhoewel dit nie ‘n lewe sal terugbring nie,” het Swart Maandag gesê. Manganye is ook skuldig bevind aan die moord van prominente plaaslike sakeman mnr. Ben Fisser, op 9 April 2006. Fisser is kort ná die aanslag op Swart se lewe in sy woning in Kroghstraat vermoor, nadat Manganye hom deur ´n kamervenster in die rug geskiet het. Regter Claassen het tydens sy uitspraak spesiale vermelding gemaak van Fisser se dogter, me. Carin Fisser, se getuienis in die saak. Manganye het aan Carin erken dat hy haar pa vermoor het, toe sy hom in die hospitaal gaan besoek het toe hy in ´n stadium baie siek was. “Sy [Carin] was baie openhartig en amper naïef in haar getuienis ... Dit is egter nie duidelik waarom sy die beskuldigde in die hospitaal gaan besoek het nie,” het Regter Claassen gesê. Carin het ná Manganye se vonnisoplegging vertel dat sy per toeval uitgevind het dat hy in ´n stadium op sterwe gelê het in die Louis Trichardt Gedenkhospitaal en dat sy besluit het om met hom te gaan praat oor haar pa se moord. “Ek het nie geweet wat om te sê nie en net vertrou dat die Here my sal lei,” het Carin aan die Zoutpansberger gesê. Manganye het eers skuld op die moord erken nadat ‘n verpleegster wat Carin in die hospitaal vergesel het vir hom gesê het dat Carin daar is om hom te vergewe en dat hy net die waarheid moes praat. Carin en Manganye het daarna saam gebid. Manganye het egter, nadat hy gesond geword het, sy storie verander en het tot sy vonnisoplegging ontken dat hy Fisser vermoor het. "Soos ek hom vandag [tydens vonnisoplegging] sien, is ek nie kwaad vir hom nie. Ek het hom reeds volkome vergewe," het Carin gesê. Ongeveer ‘n week nadat Manganye vir Fisser vermoor het, het hy probeer om mev. Petro en mnr. André van den Berg, ook ‘n bekende sake-egpaar op die dorp, te beroof. Hy het geld van André geëis, waarna hy doodluiters sy pistool uitgehaal het en hom geskiet het. Die koeël het eers vir André in die bo-arm en bors en toe vir Petro in die kop getref. Petro het wonderbaarlik oorleef en was na drie weke se intensiewe sorg weer terug by die huis. Sy het verlede week haar verligting uitgespreek dat die saak nou uiteindelik afgehandel is. “Ek is bly dit het end gekry. Ek gaan dit nou vir altyd begrawe en aangaan met my lewe,” het Petro gesê. Manganye is in Julie 2006 by die minibus-staanplek in Burgerstraat aangekeer, danksy knap speurwerk deur drie lede van die polisie se plaaslike misdaadvoorkomingseenheid. Die misdaadvlaag op Louis Trichardt het hierna ´n skielike afname getoon. Regter Claassen het in sy uitspraak melding gemaak van adjudant-offisier Jaco Crause se speurvernuf. “Hy het tot die uiterste gegaan om seker te maak die saak word voor die hof gebring.” Claassen het tydens sy uitspraak opgemerk dat al die Staat se getuies geloofwaardig was en dat Manganye geen emosie of berou getoon het oor sy misdade nie. “Hy is ‘n blatante leuenaar, en wat meer is, hy het hierdie misdade gedoen terwyl hy uit op parool was ... Sy misdade is op ´n koelbloedige wyse gepleeg,” het Claassen gesê. Manganye het onder meer lewenslange gevangenisstraf gekry vir die moord op Fisser en 15 jaar elk op die klagte van poging tot moord op Swart en die Van den Berg-egpaar. Hy sal sy lewenslange vonnis saam met die ander vonnisse uitdien. Dit beteken dat Manganye eers na 25 jaar kan aansoek doen vir parool.

ADVERTISEMENT:
