

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 May 2010
Die noodlottige ongeluk waarin ‘n jong moeder en haar baba op Donderdag, 20 Mei, gesterf het, het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur. Me. Lindie Goodacres, voor haar troue ‘n nooi Van den Heever, en haar ses-maande-oue baba, Courtney, is op slag dood, nadat die motor wat Lindie bestuur het vermoedelik ‘n slaggat getref het sowat 60km voor Kasane in Botswana. Beide is uit die motor geslinger, waarna die voertuig bo-op hulle gerol het. Die ongeluk het omstreeks 15:00 plaasgevind. Lindie (27) en klein Courtney was op pad van Louis Trichardt na Kasane, waar Lindie en haar Nieu-Seelandse eggenoot, Clive, woon. Tydens haar besoek het sy baie van haar vriende en familie gesien. Lindie is op 21 Maart 1983 in Louis Trichardt gebore en was die enigste dogter van Johan en Ponkie (Theresa) van den Heever van die plaas Vergenoeg. In Lindie se matriekjaar in 2001 is pa Johan oorlede en op 21 Mei 2004 is Lindie se moeder ook oorlede. Lindie het gematrikuleer by Hoërskool Louis Trichardt, waar sy aan die toneelgroep deelgeneem het en koor gesing het. “Sy was ontsettend kunstig en haar groot liefde was spyseniering. Lindie is ‘n pragtige mens wat altyd gelag het. Sy het nog die Sondag voor haar dood gevra of sy my mammie kan kerk toe neem,” sê haar tannie, me. Molly van den Heever. Oorlede Johan en Tobie van den Heever, Molly se eggenoot, was broers. Die Van den Heevers woon op die plaas Sterkstroom op die Witvlagpad. Na matriek het Lindie in Pretoria gestudeer en daarna op verskeie jagplase haar liefde vir spyseniering uitgeleef. Later het sy na Botswana verhuis om daar op ‘n groot jagplaas spyseniering te doen. Dit is waar sy Clive ontmoet het. Die paartjie is by ‘n gastehuis by die Albasinidam getroud op 23 Mei 2009. Op die dag van hul huweliksherdenking is ‘n roudiens in Kasane gehou. Die verassing het twee dae later plaasgevind. Clive se familie van Nieu-Seeland kom na Louis Trichardt waar die as Saterdag, 30 Mei om 10:00 by die familiebegrafplaas op die plaas Sterkstroom gestrooi sal word.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
