

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 May 2010
"Red hierdie land van ons!" Dit was die versoek van me. Petro van den Berg toe sy verlede week ‘n memorandum aan die polisiebevelvoerder op Louis Trichardt oorhandig het as deel van Solidariteit se nasionale protesaksie teen misdaad. Van den Berg, wat self ‘n slagoffer van ‘n geweldsmisdaad was wat byna haar lewe geëis het, het die memorandum aan kol. Francois Ramovha van die Makhado SAPD oorhandig. Die protesaksie is deur die Solidariteit Beweging, wat bestaan uit Solidariteit, AfriForum en Helpende Hand, van stapel gestuur. Solidariteit se woordvoerder, mnr. Jaco Kleynhans, het gesê dat daar met die optrede gepoog is om by soveel as moontlik van die 1 100 polisiestasies regoor die land memorandums in te dien. Die memorandum het klem daarop gelê dat “misdaad buite beheer is en dat mense in Suid-Afrika vir hulle veiligheid vrees.” Die doel van protesaksie was eerstens om te protesteer teen die misdaadvlakke in Suid-Afrika en tweedens om ‘n oproep op gemeenskappe te doen om gemeenskapbeveiligingstrukture te skep. Die rooi hemde wat gedra is deur diegene wat aan protesoptogte deelgeneem het, dui op ‘n protes teen al die bloed wat vloei weens misdaad. Petro en André van den Berg het ook hul rooi hemde aangehad. Saam met hulle was mnre. Dirk Meissenheimer en Danie Pita van die Soutpansberg Dorpswag. Die Van den Berg-egpaar onthou nog die aanval wat hulle lewens onherroeplik verander het. Omstreeks 03:30 op 18 April 2006 het hulle wakker geword van hul hondjie se histeriese geblaf. André het die gordyn effens weggetrek en ‘n man gesien wat ‘n vuurwapen op hulle gerig het. Op André se vraag, het hy gesê dat hy geld soek. André het gesê dat hulle nie geld het nie en dat hy moet loop. Die oomblik toe André omdraai, het die misdadiger deur die kamervenster geskiet. Die koeël is deur André se arm en bors, sentimeters van sy hart. Daarna het die koeël Petro in die kop getref. Vir haar het drie breinoperasies en maande se intensiewe behandelings gevolg. Sy was aan haar linkerkant verlam en moes weer leer loop. Vandag ly sy aan epilepsie en balansprobleme. “Ek leef daarmee saam, met die genade van die Here. Die hartseerste van die aanval is dat ons dierbare twee kleinkinders vandag depressielyers is,” sê Petro. Hulle kleindogter het ten tye van die aanval by hulle in die kamer geslaap en alles gesien. Die kleinseun het net na die skoot in die kamer gestorm en sy bebloede oupa en ouma daar aangetref. Die man wat hulle geskiet het, is verlede week op Louis Trichardt tot 256 jaar gevonnis (sien voorbladberig). In Limpopo is ‘n totaal van 751 moorde tussen April 2008 en Maart 2009, sowel as 701 gevalle van poging tot moord, aangemeld. In dieselfde tydperk is 2 815 rooftogte met die doel om ernstig te beseer in die provinsie aangemeld. In die memorandum is daar van die regering geëis om misdaadvoorkoming hul eerste prioriteit in Suid-Afrika te maak. Die regering moet ook “privaat uitgawes wat vir misdaadvoorkoming aangegaan word, aftrekbaar van belasting” maak. Van die SAPD word geëis om nie alleen misdaad met uitnemendheid te beveg nie, maar om ook die moratorium op die aanstelling van reserviste op te hef en die kommandostelsel weer in te stel of onmiddellik ‘n landelike beveiligingstruktuur te implementeer. Terwyl duisende mense regoor die land op 19 Mei in protesoptogte gestap het, het die Makhado Munisipaliteit egter toestemming dat daar op Louis Trichardt ´n protesoptog gehou kon word, geweier. Hul rede was dat die aansoek te laat, minder as sewe dae voor die tyd, ontvang is. Hulle wou geen spesiale vergunning maak nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
