

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 May 2010
Senior bestuurslede van AgriSETA kon op 18 Mei hulself kom vergewis van die positiewe impak wat die opleiding van plaaswerkers op grondvlak het, tydens ‘n besoek aan die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU) se kantore op Louis Trichardt. Die hoëvlak afvaardiging het bestaan uit die Hoof Uitvoerende Beampte van AgriSETA, mnr. Jerry Madiba, hul vaardigheidsbestuurder, mnr. Gerard Mamobolo, asook die hoof van Skills for Africa, mnr. Johan Potgieter. Mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die SDLU, het tydens die besoek gesê dat sedert die begin van die “drieling-verhouding” tussen die SDLU, AgriSETA en Skills for Africa in 2004/5 ,‘n paar honderd arbeiders al deur Skill for Africa met befondsing deur AgriSETA opgelei is. “Die ‘drieling-verhouding’ is ‘n voorbeeld van toewyding en harde werk en ‘n bewys dat daar wel nog instansies in Suid-Afrika oor is wat werklik omgee en wat ‘n verskil wil en kan maak,” het Hoffman gesê. Die doel van die hoëvlak besoek was om die bestuur van AgriSETA in te lig oor die aktiwiteite wat die SDLU aanbied. Meer nog was die doelwit om die impak van die opleiding uit te wys. AgriSETA allokeer jaarliks fondse vir opleiding van plaaswerkers en dit was nodig om op grondvlak te sien wat die impak van die opleiding is. Daar is met verskeie werkers gepraat wat wel van die opleiding ondergaan het. Die positiewe impak op produktiwiteit, maar ook op die selfwaarde van werkers, is uitgewys. Hoffman het gesê dat armoede gebreek word deur grondvlak bemagtiging deur middel van kwaliteit opleiding. “Dit is hoe belastingbetalers se geld gespandeer behoort te word. Dit maak ‘n werklike verskil. Die opleiding maak dit moontlik dat werkers kan vorder en groter salarisse kan verdien. Dit bemagtig ook werkers om breër te dink,” het Hoffman gesê. Een van die boere het vertel dat ‘n werker na die opleiding opgemerk het dat ‘n waaier probleme gee. Indien die fout nie toe raakgesien en opgevolg is nie, sou die skade aan die toerusting meer as R10 000 beloop het. “Beide werkgewer en werknemer baat by die opleiding,” het Hoffman gesê. Mnr. Hoffman het opgemerk dat landbouers oor die hele land dieselfde dink en dieselfde doen. “Daarom dat AgriSETA so suksesvol is. Landbouers is in beheer in AgriSETA en in georganiseerde landbou. Praktiese, toegewyde mense is deel van die ‘drieling-verhouding’. Dit is die wenresep,” het Hoffman gesê.
Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles.

ADVERTISEMENT:
