

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 May 2010
‘n Nuut-oorgedoende ambulans, volledig met handige nuwe toerusting, is in Louis Trichardt oorhandig aan mev. Maud Myburgh, staatmaker noodhulpwerker van die Noodhulpliga. Maud se toegewyde dienslewering aan die gemeenskap, veral tydens die talle sportgeleenthede oor naweke, is bykans legendaries. Sy het reeds spesiale toekennings van ‘n waarderende gemeenskap ontvang vir haar voortgesette onbaatsugtige en deeglike diens. Haar simpatieke beskikbaarheid te alle tye en deernisvolle hantering van pasiënte het die verbeelding van die hele gemeenskap aangegryp. Omdat die diens in die afgelope tyd met ‘n erg-afgeleefde voertuig en verouderde lomp toerusting moes geskied, het die gemeenskap besluit dit is tyd om hand by te sit. ‘n Spesiale aksiekomitee is anderhalf jaar gelede aangewys na afloop van ‘n spesiale vergadering van belanghebbende instansies en persone wat in belang van die gemeenskap hulp-opsies vir Maud met haar voertuig moes oorweeg. Die komitee, met mnre. Jan Kleynhans en Jacques Smalle aan die stuur, het veral onder die sakegemeenskap wye steun ontlok. Aangesien ‘n volledig-toegeruste nuwe ambulansvoertuig bykans R500 000 sou kos, is besluit om die gesamentlike ruim gemeenskapskenkings van altesaam R100 000 aan te wend om die bestaande voertuig heeltemal nuut oor te doen en die verouderde toerusting te vervang en aan te vul met die nuutste beskikbare liggewig hulpmiddele. Onder die bykomende toerusting is ‘n ingeboude opslaanbed, draagbare suurstoftoerusting en -noodhulpkas, ’n nuwe opvoubare rolstoel en weerbestande kits-gazebo met tafel en stoele. Namens die borge het mnr. Johan Wilken van Redefine Properties, eienaars van Makhado Crossing, verlede week tydens ‘n oorhandigingsgeleentheid by Mike’s Kitchen gesê die hele gemeenskap het gereageer om Maud se belangrike gemeenskapsdiens te steun. “Omdat ons ook deel is van die gemeenskap, het ons onmiddellik besluit om deel te wees van die projek.” Die voorsitter van die aksiekomitee, mnr. Jan Kleynhans van Mike’s Kitchen, het waardering uitgespreek vir die bydraes van elke individuele lid van die gemeenskap, en daarop gewys dat die aksiekomitee se werk voortduur. “Ons wil graag op ‘n deurlopende grondslag Maud behulpsaam wees met die bedryfskoste van haar diens.” Hulp is veral nodig vir die vervanging van verbruikbare noodhulpmiddels en brandstof. Maud het groot waardering uitgespreek oor die ruim skenkings en steun.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
